Bella Donna deelnemers presteer!

Knap gedaan aan al die deelnemers van Bella Donna Piet Retief Grooming and Modelling Classes wat tydens die afgelope naweek skoonheidstitels verower het!

Moet nooit iemand oordeel ten opsigte van uiterlike voorkoms alleen nie, want dit is juis die innerlike voorkoms wat soms die mooiste harte verberg.

Op Saterdag, die 18de Junie 2016, het opgewonde deelnemers vanaf Piet Retief vertrek na Secunda waar hulle deelgeneem het by Lake Umuzi vir verskeie titels. Al die deelnemers het uitstekend gevaar in hulle verskeie kategorieë. Lara Jonker is gekroon as eerste prinses vir “Miss Cosmos Rand 2016”, asook as “Senior Photogenic” en as tweede prinses vir “Miss Highveld Youth 2016”.

Elzaan Kok is aangewys as tweede prinses in die “Miss Cosmos Rand 2016” afdeling en as eerste prinses in die “Miss Highveld Youth 2016” kategorie. Lerika Botha is gekies as tweede prinses in die 10-12 jaar afdeling vir “Miss Cosmos Rand”. Haar sussie, Karla Botha, is aangewys as eerste prinses in die 7-9 jaar afdeling en sy het ook die titel weggeraap vir “Best Dressed 0-12 years”. Boonop was Karla ook gekroon as tweede prinses vir die “Miss Highveld Youth 7-9 years” kategorie.

Dylan Pretorius het ook weggestap met ‘n paar titels agter sy naam. Hy is gekroon as “Mr Highveld Youth Senior 2016” en is ook gekies as wenner van die “Overall Photogenic, “Best Dressed” en “Best Ramp” afdelings.