VLU Kaleidoskoopnuus

VLU Kaleidoskoopnuus
VLU Kaleidoskoopnuus

By die laaste vergadering van die Kaleidoskoop-tak van die VLU was die dames baie opgewonde – hulle het ‘n welkome gas by hulle ontvang.

Khanye Vilakazi, onderwyseres by die Piet Retief Combined School, het kom kuier met die oog daarop om ‘n eie tak te stig. Daar is al ‘n paar entoesiastiese dames wat graag meer wil leer van naald-, brei- en hekelwerk. Die Kaleidoskopers is baie trots op hulle lede, Rika Wolmarans en Babie Jacobs, wat onderskeidelik as streekvoorsitter en sekretaresse gekies is vir die groter Tambukistreek.

Babie Jacobs is ook gekies as voorsitter van die Kaleidoskooptak met Hannetjie Botha as visevoorsitter. Die Kaleidoskopers was baie bedrywig die afgelope tyd. Lede kon hulle kreatiwiteit uitleef met die maak van twee artikels wat pas by die tema vir die jaar – Braai en Kamp. In die kunsvlyt afdeling is blikkies gemaak om die messe en vurke in te plaas asook ‘n potstaander vir die driepootpot.

Verskeie lede was aktief met die bywoon van geleenthede. Vier lede het die Victorious Women se funksie ondersteun deur na Jacky Burger te gaan luister. Vyf lede het die Herfs-skool in Bronkhorstspruit bygewoon. Kaleidoskoop spog hier, met vyf van die ses lede uit die Tambukistreek. Rika Wolmarans, Babie Jacobs en Rika Potgieter het ook die Streekvergadering bygewoon.

Daar het hulle leiding en wenke ontvang van die hoofbeoordelaar, Debbie du Plessis, van VLU Mpumalanga. Rika Wolmarans en Babie het ook vir ‘n artikel beoordelingsdag van VLU SA gegaan. VLU-takke van regoor SA en Namibië is by hierdie vergadering verteenwoordig. Die volgende vergadering is geskeduleer vir 21 Junie. Twee masjien-geborduurde vadoeke moet ingedien word. Alle vroue bo sestien jaar word uitgenooi om saam te kom kuier en sommer net die aand te geniet. Skakel Babie Jacobs (082 929 0342) vir meer besonderhede.

VLU-groete