O/16 hokkiespeler maak haar merk in Mpumalanga

Zunéldi Labuschagne
Zunéldi Labuschagne

Zunéldi Labuschagne, wat deel is van Hoërskool Piet Retief se 0/16 hokkiespan, is besig om haar merk in Mpumalangahokkie te maak.

Nie slegs as speler nie, maar ook as skeidsregter. Na vier uitmergelende rondtes proewe, is sy in die Mpumalanga B-span opgeneem. Hierdie span is reeds hard aan die oefen en moet sy Vrydae, Saterdae en selfs party Sondae Witbank en Nelspruit toe ry om te gaan oefen. Die interprovinsiale toernooi vind die laaste week van die Julievakansie in Potchefstroom plaas. As skeidsregter maak sy ook haar buiging. In April het sy besluit om haar skeidsregtereksamen af te lê. Sy het ook in ‘n toernooi gedurende die Aprilvakansie as skeidsregter opgetree en is tydens daardie week geëvalueer.

Na dié week kry sy onlangs ‘n e-pos van die Mpumalanga Skeidsregters Vereniging waarin sy vir twee Nasionale toernooie as Zuneldi in aksie skeidsregter gekies en uitgenooi word. Die eerste week is ‘n 0/18 Interprovinsiale toernooi in Witbank. Die week vind die eerste van die Julie skoolvakansie plaas. Die grootste eer, en kompliment, is dat sy ook deur Mpumalanga genomineer is om as hulle nommer een skeidsregter by ‘n Nasionale IPT-toernooi in Pretoria op te tree. Die toernooi word deur SA Hokkie aangebied, en haar aanstelling moet deur SA Hokkie (SASHOC) bekragtig word.

As in ag geneem word dat hierdie meisie nou eers twee maande as skeidsregter optree, is dit ‘n geweldige prestasie, maar om as Mpumalanga se nommer een genomineer te word, is uitsonderlik. Haar Julievakansie gaan in totaliteit deur hokkie in beslag geneem word. Twee weke as skeidsregter en een week as speler vir Mpumalanga. Baie geluk Zunéldi! Hoërskool Piet Retief en die hele gemeenskap van Piet Retief is baie trots op jou, waar jy oral in die land as ware ambassadeur vir ons skool en dorp gaan optree. Ons hou jou hokkieloopbaan met meer as blote belangstelling dop. Van ‘n A vir ‘n A+ Sportvrou tot ‘n Z vir Zunéldi! Van die begin tot die einde ‘n SUPER DOGTER!