Nuus oor en uit Huis Immergroen

Nuus oor en uit Huis Immergroen
Nuus oor en uit Huis Immergroen

Onlangs het rillerstories oor die versorging van bejaardes die rondte gedoen, maar gelukkig is Huis Immergroen hier in ons omgewing.

Dit is weer sulke tyd: “Die jaar word ryp in goue akkerblare …” en oral om ons is die pragtigste herfskleure te sien in ons boomryke dorp. Soos wat die koue ons bekruip, doen die ouderdom dit ook en soms vang dit ons selfs heeltemal onverhooeds.  Hier kry ons geliefde ouer familielede goeie, liefdevolle versorging en word daar uit die pad gegaan om mense te help.

Die prag van die herfs in ons eie omgewing Dankie daarvoor aan almal by Huis Immergroen. Ten spyte van die skielike kouer weer gaan dit oor die algemeen goed met die inwoners. Dit is sommer lekker om oom Koos Joubert weer terug te verwelkom nadat hy ‘n draai in die hospitaal moes maak. So word Rupert Gresse ook met blydskap terugverwelkom na ‘n groot operasie. Mag hierdie twee manne gou weer heeltemal gesond wees. Die inwoners en personeel betuig graag hulle simpatie met tannie Martie Rossouw en haar familie. Haar skoonseun, Eric Delport, het op Sondag, 8 Mei, sy stryd teen kanker verloor. Mag Tannie, Annalize en al die ander familie Jesus se troos en nabyheid ervaar. Kuiertjies het maar effens opgedroog so saam met die kwyn van die somer en lyk dit of Huis Immergroen se vriende bietjie begin vergeet om te onthou.

Aangesien die winter se griep en verkoue ‘n gegewe werklikheid is, is vars produkte ‘n noodsaaklikheid om die bejaarde inwoners se gestelle mee te bou en siektes te help beveg. Is dit dan nie nou avokadopeertyd nie? Indien u dalk ‘n oorvol avokadopeerboom in die tuin het, deel asseblief bietjie met die oues van dae – dié vrug is onder andere ‘n goeie bron van gesonde (poli-onversadigde) vette en verskeie vitamiene. Dit bevat selfs meer kalium as piesangs! Geniet die koeler weer en mooi natuur en, kom kuier! Immergroen liefdegroete