Huis Immergroen hartseer en pret

Huise Immergroen - Tannie Shorty Brits 03/06/1923 tot 20/04/2016
Huise Immergroen - Tannie Shorty Brits 03/06/1923 tot 20/04/2016
Daar is die afgelope week met groot hartseer afskeid geneem van ‘n baie geliefde inwoner – tannie Shorty Brits. Mev G.E. Brits, of tannie Shorty soos almal haar geken het, is op 3 Junie 1923 gebore en het vanaf Maart 2015 in Huis Immergroen gewoon.

Daar is ‘n paar keer in die Excelsior Nuus melding gemaak van haar pragtige breiwerk. Tannie Shorty het onlangs beroerte gehad en haar gesondheid het daarna agteruitgegaan. Op Woensdag, 20 April, moes ons haar vir die laaste keer groet, toe sy oorlede is. Daar is sommer nou baie hartseer mense in Huis Immergroen want tannie Shorty gaan baie gemis word. Die personeel en inwoners betuig graag hulle innige simpatie met haar familie. Mag julle troos vind in die mooi herinneringe wat julle aan tannie Shorty het.

Die inwoners het op 25 April al te lekker geoefen en dit boonop geniet ook! Onder toesig van ‘n fisioterapeut, is daar vrolik klein kniebuigings (“squats”) in ‘n kring gedoen. Dinsdagoggend was menige inwoner lekker styf en het ons gehoor: “Ek gaan dit nooit weer doen nie.” Dit is egter duidelik dat almal dit baie geniet het. Die Bar One-koek waarmee die fisioterapeut hulle bederf het op 26 April was beloning genoeg vir hulle harde werk – dit was heerlik!

Baie dankie. Die bestuur van Huis Immergroen bedank ook graag die Assegaai Marathonklub vir die ruim donasie wat aan hulle oorhandig is op 19 April. Dit word regtig baie waardeer. Nogmaals baie dankie aan almal wat steeds Huis Immergroenvriende is.

Immergroen liefdegroete