Hugo Küsel publiseer boek nommer vyf!

Hugo Küsel publiseer boek nommer vyf!
Hugo Küsel publiseer boek nommer vyf!
Anders as Hugo Küsel se voorheen gepubliseerde boeke, is Merkwaardige Genade ‘n volledig Afrikaanse boek en volgens die uitgewers is hierdie ’n diepmenslike verhaal wat die leser oorrompel en met veerkragtige taalgebruik meesleur van die begin tot die aangrypende ontknoping.

Op 18 September 2015, het die Excelsior Nuus berig dat Hugo Küsel, afgetrede onderwyser, nou ‘n sogenaamde “published author” is, nadat hy “No Return for the Eel”(beskikbaar by Amazon.com) geskryf en gepubliseer het. Hy het ook al “In the Shadow of the Rock” (beskikbaar by Amazon. com), “Die Nachkommen von Friedrich Küsel und Johanna Schröder” (in samewerking met Eckhard von Fintel geskryf en reeds uitverkoop), “Die Webers – Stamm Eins und auch die anderen Stamme” (Die boek is in Duits, Engels en Afrikaans geskryf en is ook reeds uitverkoop) op sy skrywerskerfstok. Die reklameteks vir Merkwaardige Genade (beskikbaar by enige boekwinkel in Suid-Afrika), lui soos volg: “Martie Botha is die volmaakte voorbeeld van ‘n gesofistikeerde Pretorianer. Sy is goed gebou, intelligent en beeldskoon.

Sy is getroud met ‘n skatryk kardioloog en sy het twee pragtige seuns grootgemaak. Sy lewe ‘n benydenswaardige rykmanslewe. Martie het egter kinderjare oorleef wat emosionele letsels op haar lewe gelaat het. Deur haar hele lewe dra sy die psigiese gevolge van die onhebbelike gebeure in haar kinderjare saam met haar. Sy kon nog nooit daarin slaag om iemand in haar vertroue te neem en die geheim met hom of haar te bespreek nie. Die onverwagte dood van haar stiefpa sit ‘n reis aan die gang van verandering en ontboeseming. By die begrafnis word sy weer aan haar pynlike ervaring van haar kinderjare herinner – en ‘n ou vriend word weer deel van Martie se lewe.

Flip Durand, haar broer, Sarel, se beste vriend wat haar altyd geterg het, word skielik weer deel van haar lewe. Hy is ‘n sielkundige, en word deel van Martie se lewe net toe sy ‘n besluit neem wat haar huwelik in ‘n krisis dompel. Terwyl hierdie twee vriende mekaar herontdek, is Martie uiteindelik gereed om die mees pynlike stap te neem: om haar geheim wat haar al so lank treiter met iemand te deel, en om haar hart oop te maak. Martie se huwelik met Danie, ’n befaamde hartspesialis, wankel. Die egpaar se twee seuns is huis-uit, en Martie wil die leënesssindroom temper deur verder te studeer, maar loop haar vas in Danie se onversetlike teenkanting.

Sy word gediagnoseer met aggressiewe kanker. ’n Wulpse mannejagter en ‘n vertroude jeugvriend, maak hulle opwagting. Danie speel met vuur by die privaatkliniek waar hy werk. Gaan hy sy vingers verbrand? Watter impak gaan die gebeure op Martie en Danie se verhouding hê? Sal sy haar man kan vergewe?” Hierdie vyfde boek van Hugo kan ook by die plaaslike tak van die CNA of van www.publishingworldsa. com bestel word. Baie geluk, Hugo, mag daar nog baie leesstof uit jou pen voortvloei.