ATKV Mediaveertjie vir Piet Retiewer

ATKV Mediaveertjie vir Piet Retiewer!
ATKV Mediaveertjie vir Piet Retiewer!
Charonike Nel, oud-leerling van Hoërskool Piet Retief, het op Vrydaagaand, 13 Mei 2016, naam gemaak in die mediawêreld toe sy ‘n ATKV-Mediaveertjie ontvang het.

In Afrikaans beteken ‘n “veer in jou hoed” ‘n prestasie behaal. (Engels: “A feather in his cap”). Elke jaar vereer die ATKV persone wat in die mediawêreld uitstyg, in Afrikaans, op die gebied van lees (gedrukte/digitale media), luister (radio/ digitale media) en kyk (TV/digitale media). Vanjaar se wenners is op Vrydag, 13 Mei, aangekondig tydens ‘n spoggeleentheid te Vodacom World in Midrand.

Verskeie bekende name in die Afrikaanse radio-, joernalistieken televisiebedryf is vereer met ‘n veertjie. ‘n Paar van die bekendes het, onder andere, die volgende persone ingesluit: Paul C. Venter (beste draaiboek vir ’n dramareeks of enkeldrama vir Vlug na Egipte), Frank Opperman (beste akteur in ’n dramareeks of en keldrama vir sy rol as Tony Fivaz in Terug na Egipte). Freek Robinson (beste aanbieder of onderhoudvoerder van ’n nuus- of aktualiteitsprogram vir sy program Robinson op kyk- NET), Emo Adams (beste aanbieder van ’n vermaaklikheidsprogram – Jou Show, kykNET) en veteraan, Bettie Kemp (beste regisseur van ’n radiodrama of –teater – Sonate, RSG). Die beste aanbieder by ’n kampusradiostasie was Piet Retief se Charonike Nel vir haar Rooiwynsondag (Puk fm 93.6). Voorwaar ‘n veertjie in haar hoed!

Baie geluk, Charonike! Jy tel nou onder die grotes! Jou ouers (Roelof en Charmaine Nel), oud-onderwysers by HPR, die Hervormde gemeente (Piet Retief) en sommer almal wat jou ken is trots op jou! Indien u wil sien hoe Charonike haar alma mater en die dorp se naam hooghou, kyk gerus Bravo, op Donderdag, 19 Mei. Die volledige ATKV-Mediaveertjiegeleentheid word ook op Sondagaand, 22 Mei op kykNET uitgesaai.

ATKV-Mediaveertjies-2016

Charonike doen ‘n verkeersverslag vir Nampo uit ‘n chopper
Charonike doen ‘n verkeersverslag vir Nampo uit ‘n chopper