AfriForum eis R260 000

AfriForum
Johann Weber by Mkhondo Munisipaliteit

AfriForum het gister as deel van hul nasionale slaggatmaand R260 000-00 van die Mkhondo Plaaslike Munisipaliteit geëis vir slaggate wat in Piet Retief herstel is.

Dit volg nadat dié munisipaliteit ‘n ooreenkoms met AfriForum – wat reeds op 24 Junie 2015 bereik is – oor die herstel van slaggate in Piet Retief se industriële gebied, verontagsaam. Die sakegemeenskap in Piet Retief het in Oktober 2015 reeds R140 000-00 vir slaggatherstelwerk in Salignastraat in dié dorp se industriële gebied beskik baar gestel, terwyl AfriForum die afgelope week ander slaggate van 1 400m2 teen ‘n koste van R120 000-00 herstel het. ‘n Gekonsolideerde eis is daarom teen die Mkhondo Plaaslike Munisipaliteit ingestel. “AfriForum het in April vanjaar talle munisipaliteite op terme geplaas om gevaarlike slaggate op die hoofroetes in hul onderskeie dorpe te herstel.

Die Mkhondo Plaaslike Munisipaliteit het egter tot op hede nie op dié aanma-ning gereageer nie en versuim steeds om hul grondwetlike plig ingevolge die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, 2000 (Wet No 32 van 2000) na te kom. Indien die munisipaliteit hierdie eis van R260 000-00 ignoreer, het Afri- Forum geen ander keuse as om hom tot die hof te wend nie,” het Johan Weber, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Oos, gesê. Volgens mediaberigte gaan die Mkhondo Plaaslike Munisipaliteit binnekort R84 miljoen aan ‘n teerpad van drie kilometer spandeer wat ‘n klein plaasgemeenskap in Sandbank naby Piet Retief sal bedien.

“Hoewel die tenderbedrag relatief realisties is en verskeie brûe in dié munisipale gebied insluit, blyk dit dat ‘n wanbalans bestaan in die wyse waarop hierdie munisipaliteit die bou en herstel van paaie prioritiseer – veral omdat so ‘n groot bedrag sonder toestemming aan ‘n klein plaasgemeenskap op privaateiendom spandeer word en die groter Piet Retief-gemeenskap agterweë gelaat word.” Ondersteun Afri- Forum se eis teen die Mkhondo Plaaslike Munisipaliteit deur “Eis” na 45350 te sms (R1).

Afriforum Potholes
Afriforum Potholes