VLU-dagtaknuus

VLU- dagtaknuus
VLU-dagtaknuus

VLU-dagtaknuus – Tydens ‘n baie aangename Maartvergadering het die VLU-lede van die dagtak nabetragting gehou oor die 2016 konferensie te Wakkerstroom.

Piet Retief het algeheel tweede geëindig in die Tambuki-streek! Geluk aan al die pryswenners, julle het die dagtak baie trots gemaak. Flox, Marie, Janeen, Mariet, Sonja en Helena se blommerangskikkings was asemrowend mooi. Tydens die vergadering het Wilana die dames meer vertel oor Jan Braai, die VLU se persoonlikheid van die jaar. Hy gee goeie raad: Daar is niks beter vir ‘n braai as ‘n regte, egte oop houtvuur nie (‘n gas is glo iemand wat jy na ‘n braai nooi). Moet egter nie inheemse hout gebruik nie, dit kan jou duur te staan kom.

Braai is die regstreekse gebruik van energie, so, as jy die aarde liefhet, braai. Rook volg net mooi mense, genoeg van hulle by jou, sorg vir ‘n rooklose braai. Jan Braai sê om te braai is gesond, want die vet drup af. Verder eet diere gras, blare en groente, dus kan mense net vleis eet. ‘n Bees hoef ook net een maal dood te gaan, ‘n mens moet die vleis nie doodbraai nie. Braaibroodjies is, volgens hom, altyd gewild en die enigste manier om jou brood aan albei kante gebotter te kry. Aangesien die produk van die jaar die eier is, het die dames ook paaseiers gemaak met fondant. Eiers het ‘n magdom voordele, dit is onder andere gesond en ‘n baie goeie bron van proteïene vir oud en jonk.

Eiers is ‘n volledige proteïen, maak jou slim (die cholien in die eiergeel), werk teen honger, hou jou energievlakke hoog, bevorder gesonde hare en naels (die hoë swaelinhoud sorg daarvoor) is ‘n natuurlike bron van vitamien D en bevat bitter min slegte vet. Charleen het verduidelik hoe om blikkies te versier vir ‘n braai. So ‘n versierde blikie is ‘n voorgeskrewe artikel van VLUMpumalanga. Na ‘n vol, genotvolle vergadering het die dames tee en verversings geniet.