Skoene ophang?

Skoene ophang

Dikwels word ‘n beroepsportpersoonlikheid of ander bekende sportpersoonlikheid se uittrede uit ‘n spesifieke sportsoort bekend gemaak met die aankondiging dat hy/sy die skoene ophang.

Hier dink mens onwillekeurig aan die veteraan Engelse losskakel, Sir Jonny Wilkinson, wat verlede jaar (2015) sy rugbystewels opgehang het omdat hy “moeg was vir die oefen” en nie meer kans gesien het vir die lewe van ‘n rugbyspeler nie. Die bekende padhardloper, Louis Massyn, het op 48-jarige ouderdom in ‘n artikel in die Volksblad (1999) gesê dat hy sy “tekkies sou ophang as sy bene stompies is”. Gedurende die Paasnaweek, op ‘n redelik kwaai mistige oggend, het ‘n paar van die plaaslike Assegaaiers in die Moolmanomgewing gedraf en dit is toe dat die tekkies aan die kragdraad opgemerk is.

Hoog bo die pad in die mis … Daar en dan is daar gewonder wie se tekkies dit sou wees en waarom hulle daar hang? Wie het nou die handdoek ingegooi en ophou draf? Of wie is geboelie dat die tekkies daarheen geslinger is? Of is daar dalk selfs ‘n kriminele betekenis aan die skoene in die lug te heg? Die gooi van skoene (met veters aanmekaar geknoop) oor so ‘n hoë draad is niks nuut nie en kom veral in die VSA en Kanada voor. Dit staan bekend as, “shoe tossing, shoe dangling” of “shoe flinging”. Daar is verskeie redes voor en die skoene word gewoonlik oor telefoondrade, kragdrade en ander hoë drade geslinger en gelaat om daar te hang.

Skoene ophang 1Veral in landelike gebiede word tekkies (sneakers) gewoonlik gebruik, maar selfs stewels is al so geslinger. So kom “boot throwing” of “welly wanging” al vir jare in onder andere Nieu-Seeland en Brittanje voor, as ‘n mededingende sport. Wêreldkampioenskappe vind al plaas in dié sportsoort. Hoekom word skoene so “opgehang” anders as in mededingende sport? Daar is diegene wat skoene so “ophang” om iemand anders te boelie (“bêre” die skoene waar dit nie bygekom kan word nie), die gek met iemand te skeer, die einde van ‘n skoolkwartaaal of -loopbaan aan te kondig en vir nog baie meer redes. Soos reeds genoem, kan die “opgehangde” skoene ook dui op kriminele aktiwiteite, soos dat daar ‘n dwelmhandelaar in die omgewing kan wees, naby waar die skoene in die lug hang. Die Moolmanskoene is tans nog ‘n raaisel en hoop ons maar dit is doodeenvoudig iemand wat moeg geoefen is en sy/haar skoene nou opgehang het …