Rolbalspelers wen goud

Rolbalspelers van Piet Retief wen goud
Rolbalspelers van Piet Retief wen goud
Die 0/25-rolbalspan van die Kwa- Zulu-Natal Country Bowls, wat Piet Retief-spelers insluit, het tydens die Nasionale rolbalkampioenskappe te Bloemfontein, as kampioene uit die stryd getree.

Die Piet Retiewers neem al geruime tyd deel aan rolbalkampioenskappe onder die vaandel van die KwaZulu- Natal Country Bowls. Vier Piet Retiewers het aan die kampioenskappe vanaf 29 Maart tot 1 April deelgeneem. Danelle Fouché en Johann Terblanche het as lede van die O/19 span deelgeneem en Flip van Vreden en Brendon van Vreden was lede van die O/25 kampioenspan. Die O/19’s was maar ‘n nuwerige span en kon hierdie jaar nie regtig presteer soos hulle graag sou wou nie. Volgende jaar sal hulle beslis weer probeer.

Daar was ‘n totaal van 15 spanne wat deelgeneem het en die O/25–span het in ‘n seksie van agt gespeel. Hulle moes sewe wedstryde speel, waarvan hulle vyf gewen, een gelykop gespeel en een verloor het. Dit het hulle die seksiewenners gemaak. Daarna moes hulle teen Boland in die semi-finaal speel wat hulle ook gewen het. Hierdie flinke span moes toe teen Ekurhuleni speel in die finale wedstryd. Na 20 koppe was hulle gelykop en ‘n valbylpot is gespeel, wat deur die Kwa- Zulu-Natal Country Bowls-manne gewen is.

Dit maak van dié span Nasionale O/25 rolbalkampioene. Hulle het die Nasionale trofee gewen en elkeen ‘n goue medalje huis toe geneem. Volledige uitslae en heelwat foto’s kan gekry word op facebook by “U/19 and U/25 National Championships 2016”. So plaas die rolbalmanne Piet Retief nogeens in die kollig. Baie geluk, manne, doen so voort!