Reünie – Klas van 1966

HPR wapen
HPR wapen

 Dit is elke keer met groot opgewondenheid dat ons wag vir Reünie -groepe om te arriveer.

Daardie oomblik wanneer almal mekaar vir die eerste keer in jare sien, is onbeskryflik. So ook die dankbaarheid om teenwoordig te kan wees, vir ons as skool en ook vir die oudleerlinge, om gespaar te wees na al die jare. So het ons die klas van 1966 ontmoet vir hulle 50 jaar reünie. Renate Conrad en Erna Paul-hulle het die dag gereël en met ‘n amperse erewag is die gaste ingewag en is daar dadelik naam-plaatjies uitgedeel. Ons is vermaak deur die skoollied van ouds en elke oudleerling het dit met absolute trots saam met hulle alma mater gesing.

Op ons beurt het ons gespog met HPR se elektroniese sentrum en Mnr. Krause moes net bontstaan om al die vrae te beantwoord. Ons het die oudleerlinge na die swembad geneem want dit was tog immers in hulle dae die groot rede vir fondsinsameling. Baie trots het ons hulle ook ons pragtige koshuis gaan wys en het ons gehoor dat min dinge verander het, veral as dit kom by die brood aan tafel!

Seuns 50 jaar gelede het onder gebed brood gegaps, net soos dié van vandag! Daarna is ons na die pawiljoen waar almal stil geword en ‘n oomblik van nostalgie ervaar het. Skooldae gaan mos maar oor die skoolwerk in die klasse maar dan word die meeste herinneringe op die sportvelde, kadette, koor en alles wat die skool nog bied, gemaak. Hoërskool Piet Retief sê dankie vir alles wat julle met ons gedeel het en ook vir die jaarblaaie wat ons argief aanvul. Ons groet nie, ons sê eerder tot weersiens! Marijke de Waal, Hoërskool Piet Retief Volgende week vertel ons julle hoe die 1966 matrieks die reünie ervaar het en plaas dan ook foto’s.