Piet Retief – ons het jou so lief!

Skool van Piet Retief - ons het jou so lief!
Skool van Piet Retief - ons het jou so lief!

Soos belowe word ‘n oudleerling se weergawe van hulle 1966 matriekreünie-ervaring , met foto’s, met lesers gedeel: “Dit was voorwaar in alle opsigte ‘n voorreg om ons 50 jaar reünie te kon beleef, met dankbaarheid in elkeen se hart, dat ons so gesond kan wees om as ‘n groep saam die dag te kon geniet. Alhoewel Marijke de Waal en Linda van der Linde al hard gewerk het vir die PUK16 Rugby, is ons baie vriendelik deur die twee dames by De Cafè ontvang. Elke oud-skolier het sy naamplaatjie en ‘n klein aandenking ontvang. Tussen al die vrolike gelag en gesels deur, moes daar so af en toe die stem dik gemaak word dat die verrigtinge kon verder gaan. Met trots het ons saam die skoollied gesing. Marijke het ons op ‘n begeleide toer, deur die skoolterrein verby die swembad, na die koshuis en laastens die “nuwe”sportstadion geneem.

Die rugbyklub gebruik nou ons “ou”stadion. By elke klaskamer wou hul eers van hul herinneringe vertel en arme mnr. Krause moes geduldig wag tot hy ons die elektroniese sentrum kon wys en hoe daar vandag onderrig gegee word. Almal was beïndruk dat ons plattelandse skool so tred hou met moderne tegnologie. Met die terugvoering wat ek gekry het, kan ek sê dat elkeen van ons so trots is op ons skool. Die hele kompleks, die tuin, die koshuis en die stadion – alles is so netjies en skoon. Veral as jy daaraan dink dat daar ‘n uur vantevore groot rugbywedstryde plaasgevind het en toe ons daar kom was geen papiere of bottels sigbaar nie – knap gedaan! In ons matriekklas van 1966 was daar 82 leerlinge. Volgens ons kennis is daar 13 al oorlede.

Ongelukkig kon ons geen inligting van 16 van ons oudskoliere kry nie. Daar was 24 wat die reünie bygewoon het. Hulle het van Gauteng, Noordwes, KwaZulu-Natal en Mpumalanga gekom. Piet Retief was die sentrale plek en hulle wou eenvoudig hulle skool weer sien. Na die skoolbesoek is ons na Waterside Lodge se konferensiesaal Daar kon ons verder gesels tot laat in die nag. Die verversings was baie lekker, veral die braaivleis! Die ou foto’s en jaarblaaie het ook vir interessante oomblikke gesorg. Die hoop is uitgespreek dat ons nie weer 30 jaar sal wag vir die volgende reünie nie en dat die “verlore oudskoliere” opgespoor moet word …”

Renate Conrad

Skool van Piet Retief - ons het jou so lief!
Die matriekseuns van 1966 in 2016