Paasfees – ‘n heerlike vakansietyd!

Paasfees – ‘n heerlike vakansietyd!
Paasfees – ‘n heerlike vakansietyd!
Paasfees – Tradisioneel is van die besigste tye op die paaie van Suid-Afrika, die tyd rondom Paasnaweek, wat ook gewoonlik saam met die skoolvakansies val.

Vir so baie mense is dit eintlik die enigste geleentheid om bietjie weg te breek en dan is dit ook een van die lekkerste tye van die jaar vir vakansie hou – die weer in April is nagenoeg perfek daarvoor. Dikwels word die langpad see toe aangedurf en families wat ver van mekaar af woon, kom soms weer ‘n slag bymekaar uit vir heerlike familiekuiertjies. Daar word lank voor die tyd beplan aan al die lekker wat gaan volg en byna dieselfde opgewondenheid as rondom Kersfees, word ervaar.

Die winkels is vol Paaseiers (en selfs sokolade-hasies), tuisgemaakte Paaseiers word vernuftig en kunstig versier en daar word vele Paaseiersoektogte vir kinders aangebied. Al hierdie dinge is tog te lekker. Wat beteken dit egter alles vir ‘n Christen? Daar word gesê dat die eier dui op nuwe lewe en dan ook vir die Christen op hierdie manier dui op Jesus Christus se opstanding uit die dood. Besef kinders van die Here dit regtig? Wat maak ons van Paasfees? Is dit net ‘n lekkereet- en-vakansie-hou tyd, of dink ons darem daaraan dat ons Jesus se kruisdood en opstanding gedenk en, ja, vier?

Wanneer die Paasfeesklokke op Goeie Vrydag en Paassondag lui, lê ons op die strand of elders rond sonder om daaraaan te dink waarom dit langnaweek is? Dit is dalk ‘n goeie idee om, telkens wanneer ‘n happie van daardie lekker sjokolade Paaseier gehap word, met dankbaarhheid daaraan te dink dat ons Verlosser, Jesus leef! So kan die sjokolade van Beacon en Nestlé en ander, gebruik word om mens te herinner aan die grootste wonderwerk ooit.