Huis Immergroen hartseer en vrolikheid

Huis Immergroen
Huis Immergroen

Die woorde van die Laurika Rauchlied bly maar herinner aan die situasie waarin Huis Immergroen se inwoners hulle dikwels bevind.

“Vergeet om my (ons) te vergeet, onthou om te onthou …” Daar is beslis diegene wat altyd aan die inwoners en selfs die personeel dink en gereeld inloer, maar daar is tog van die inwoners wat maar afgeskeep en alleen voel. Soms is daar ook ‘n “droogte” aan besoeke en skenkings. Inwoners van die dorp word opnuut genooi om ‘n verskil te maak in die inwoners se lewens deur te kom kuier. Wanneer u besoek met musiek gepaardgaan, is dit des te beter – musiek is immers ‘n universele taal en verskaf plesier aan oud en jonk.

Die personeel en inwoners betuig hulle innige simpatie aan tannie Edna Hattingh en haar familie. Haar seun van Pretoria is verlede week oorlede. Sterkte met al die verlang! Baie geluk ook met Tannie se verjaardag! Tannie Edna het die inwoners met koek en tee bederf om haar verjaardaag te vier op Dinsdag, 15 Maart. Baie dankie dat Tannie so tussen die hartseer deur steeds tyd gemaak het vir mede-inwoners. Tannie Breggie Nel word terugverwelkom nadat sy vir twee weke by familie gekuier het. Geluk ook met Tannie se kleinseun, JJ, se troue. Hierdie week het twee familielede van inwoners onomwonde verklaar hoe dankbaar hulle is teenoor die personeel van Huis Immergroen wat hulle bejaarde geliefdes met soveel omgee versorg.

Een dame word al vir meer as vier jaar versorg en haar familie praat net met lof van personeel wat bo en behalwe die uitstekende fisiese versorging selfs saam met haar sing en bid. Dankie, julle is sowaar ‘n klomp staatmakers. Dit gaan eintlik goed met die inwoners. Ons vertrou dat die enkeles wat tans nie heeltemal gesond is nie, gou weer heeltemal perdfris sal wees. Die droogte het ook ‘n invloed op vars produkte skenkings aan die tehuis gehad en het bietjie afgeneem. Enige donasies van groente, vrugte en ander vars produkte word steeds baie waardeer. Dankie aan almal wat steeds onthou om Huis Immergoen se inwoners te onthou. Immergroenliefdegroete