Wêreldbiddag vir vroue

Wêreldbiddag vir vroue
Wêreldbiddag vir vroue
Op Vrydag, 4 Maart, het gelowige vroue van regoor die wêreld bymekaar gekom om voor God neer te buig en saam oor ‘n spesifieke saak te bid.

Die Mkhondovroue is almal genooi na die byeenkoms in die NG Kerk om 07:00, sodat werkende vroue ook ‘n deel daarvan kon beleef. Vanjaar se tema was “Laat die kindertjies na my toe kom”. Die program is vanjaar deur christenvroue van Kuba geskryf. ‘n Baie visuele en persoonlike voorstelling en vertelling van meisies en vroue uit verkillende wêrelddele is uitgebeeld en voorgehou deur plaaslike meisies en vroue. Hulle het dan ook elkeen vertel van die rol van kinders en vroue in “hulle” lande.

Weer het ons Jesus se stem gehoor en opnuut sy opdrag dat ons die kinders van die wêreld, van God se groot liefde moet vertel. Die Piet Retief Laerskoolkoor het pragtig gesing en die program, waarin almal wat die geleentheid bygewoon het deel gehad het, was beslis verrykend. Mama Johanna het die openingsgebed in Zoeloe gedoen, so op haar verjaardag. Isabeau Kotze het diegene wat daar kon wees, van voor af laat besef hoe wonderlik dit is om in Jesus se lig te kan leef.

Ongelukkig moes heelparty van die vroue gaan werk, maar die wat kon bly het ruim geleentheid vir verdere gebed en veral saam bid gehad. Daarna kon die vir wie dit moontlik was heerlik saamkuier in die kerksaal. Elke dame het ‘n spesiale pakkie wegneem-ontbyt ontvang, waarvan die houers met kinderkuns versier was, asook ‘n heerlike botteltjie limonade – dit is mos waarmee Kubaanse vroue graag hulle gaste onthaal. Wat ‘n vervullende tyd kon ‘n mens nie weer daar in die kerkgebou ervaar nie! Tog wonder mens: moet ons nie almal meer, en veral ook saam, bid nie? Bid sonder ophou, veral vir al die kinders.

Wêreldbiddag vir vroue
Wêreldbiddag
vir vroue