Vloei voort Assegaai!

Assegaai
Assegaai
“Vloei voort Assegaai op jou weg na die see…” (uit: Laerskool Piet Retief se skoollied – C Rens.)

Wat sou Piet Retief en eintlik die hele Mkhondo wees sonder die Assegaairivier? Selfs hierdie rivier is egter deur die 2015/2016 droogte geknel. Verder word die reënwater hoër op, in die opvanggebied van die Heyshopedam in die dam opgegaar (opgedam) en die Assegaai se water styg net wanneer dit deur die dam toegelaat word of indien dit aan die dorp se kant van die dam werklik besonder baie reën – iets wat hierdie somer, helaas, nie gebeur het nie. Wanneer mens tans op die brug oor die rivier, in die Wakkerstroompad, staan, kan jy wel water hoor en dit lyk of die water tog so effe vloei na die onlangse reën.

Hoe geseënd is die mense van Piet Retief nie! Hierdie water omsingel die dorp byna. Ry mens uit op die Paulpietersburgpad, Pongolapad, Mahambapad én Wakkerstroompad is dit telkens maar sowat agt tot twee-en-twintig kilometer voordat die rivier gekruis word. Waarlik ‘n lewensaar vir die omgewing. Ongelukkig waardeer almal dit nie ewe veel nie en vind daar grootskaalse besoedeling van die rivier plaas op ‘n daaglikse basis en dié besoedelde water moet gedrink word en vloei saam na die see … Wat sal tog van die ou mensdom word indien daar nie ingegryp word nie?