Huis Immergroen se Trudie sê totsiens

Huis Immergroen se Trudie sê totsiens
Huis Immergroen se Trudie sê totsiens
Vir meer as sewe jaar lank is elkeen wat by Huis Immergroen se voordeur in- of uitgegegaan het deur een spesifieke vriendelike persoon gegroet en ontvang – Trudie Engelbrecht.

Nou het dit tyd geword om Trudie te groet. Die inwoners en personeel van Huis Immergroen het op Vrydag, 26 Februarie, tydens ‘n geselligheid van haar afskeid geneem. Vir die eetgoed is geld ingesamel onder die personeel en inwoners en Rosa-hulle het hulleself oortref met die heerlikste, tuisgemaakte, maar keurig en smaaklik voorbereide eetgoed. Trudie sê dat haar tyd by Huis Immergroen haar regtig baie geleer het en sy bedank graag die bestuur vir die geleentheid om by die tehuis te kon werk sedert 2008 en vir die geleentheid om so baie ondervinding op te doen.

“Elke inwoner is uniek en spesiaal op sy of haar eie manier en het ‘n baie spesiale plekkie in my hart.” Sy sê dat sy die personeel altyd sal onthou as mense wat omgee, wat lief en leed deel en deel is van ons bejaardes se lewens – “moet nooit vergeet hoe spesiaal julle is nie”. Trudie bedank graag in die besonder vir Ellen vir haar liefde en geduld, Rosa en haar “mean team” in die kombuis vir die heerlike eetgoed, die personeel wat tydens haar afskeidsfunksie so mooi gesing het, ds. Roelf vir sy toespraak en gebed (dit het meer vir haar beteken “as wat woorde ooit kan sê”) en laastens, maar nie die minste nie, haar ouers, Mnr. en Mev. Dekker, vir hulle teenwoordigheid.

Die pragtige sang van die personeel het baie tot trane beweeg
Die pragtige sang van die personeel het baie tot trane beweeg

Sy bedank hulle vir al die jare se volgehoue ondersteuning, liefde, raad en geduld en sê dat sy trots en bevoorreg is om hulle as ouers te kan hê. Trudie bedank Ellen en haar span vir die pragtige bos blomme en geskenk en sê: “Ellen, julle is ‘n “awesome” span by Huis Immergoen. Vat die leisels saam en span styf, soos altyd, want met jou vasberadenheid en deursettingsvermoë was elke probleem nog altyd opgelos. Dit was nog altyd met trots wat ek kon sê ek werk by die tehuis.” Sy wens Lizelle (haar opvolger) baie sterkte toe en waarsku haar dat almal in ‘n mens se hart inkruip sonder dat jy dit besef. Ten slotte vra Trudie “die Here se seën en genade oor elke inwoner, personeellid en bestuurslid van Huis Immergroen, sodat die tehuis vir nog baie jare sal bestaan.

In Hom sal ek glo en vertrou vir leiding op my nuwe pad, want deur Hom sal krag gevind word om nuwe horisonne te bereik”. Trudie se vriendelike groet oor die telefoon en by ontvangs, sal beslis gemis word en sy word alles van die beste toegebid met haar seep-onderneming. Terwyl daar gegroet word, word daar darem ook terugverwelkom. Hartlik welkom terug aan Susan Bezuidenhoudt wat na ‘n ope-rasie, en siekverlof om te herstel, weer by die tehuis aange-sluit het. Daar word gehoop en vertrou dat jy nou goeie gesondheid sal ervaar, Susan. Almal is bly om jou weer terug te hê by Huis Immergroen. Baie geluk aan tannie Marie Meyer wat op 2 Maart verjaar het. Die koek en tee was heerlik en die inwoners het dit werklik geniet!

Almal wat donasies en skenkings gee word steeds van harte bedank! Dankie vir julle omgee en onthou. So ook baie dankie aan die Methodiste Kerk se gemeentelede wat die inwoners op Vrydag, 26 Februarie, bederf het met pannekoek! Dan is daar besoekers by Villa Sandra wat ongelukkig sal moet trek. ’n Swerm bye het naamlik hulle intrek geneem in ‘n ornament en word daar nou naarstiglik gesoek na iemand om hulle te verwyder. Blykbaar is bye aan’t uitsterf as gevolg van die droogte en moet hierdie bye verkieslik na ‘n korf geskuif word. Indien u van iemand weet wat dit kan doen, skakel asseblief vir Ellen – 017 826 4918. Liefdegroete uit Huis Immergroen