Ditjies en datjies uit Huis Immergroen

Ditjies en datjies uit Huis Immergroen
Ditjies en datjies uit Huis Immergroen
Die inwoners in Huis Immergroen bedank graag die lede van die Landsdiensbeweging van Laerskool Piet Retief vir hulle besoek op Woensdag, 9 Maart.

Die kinders het die oues van dae se hande met room gevryf, eintlik gemasseer en so bietje gekuier. Baie dankie dat julle onthou het om die inwoners te onthou! Die inwoners is ook soos meeste van ons baie dankbaar oor die heerlike reën wat in hierdie gebied geval het. Dalk kan die tehuis se tuin ook nou weer meer lewe kry. Die erge droogte en veral die buitengewone hitte het tuinmaak, veral in die groentetuin, feitlik onmoontlik gemaak. Die moontlikheid van tonnels vir die verbouing van groente word tans ondersoek.

By Villa Sandra lyk oom Gys Wessels se klein, eintlik mikrolappie mielies darem weer pragtig en daardie yslike tamaties van verlede jaar is ook weer sterk aan die groei. Die inwoners in Huis Immergroen is nie almal ewe sorgbehoewend nie, maar daar is heelparty, waaronder ‘n hele paar Alzheimerlyers wat wel deurlopende verpleegsorg nodig het. Vandag verdien diegene wat aan dié siekte ly ‘n bietjie aandag. Alzheimersiekte is ‘n progressiewe neurodegeneratiewe siekte. Dit is soms moeilik om Alzheimersiekte in die vroeë stadium te onderskei van die gewone (kognitiewe) agteruitgang in die normale brein, wat met ouderdom gepaardgaan.

Die voortdurende agteruitgang in geheue, vloei van spraak en ruimtelike oriëntasie lei egter tot toenemende afhanklikheid van ander. Depressie en angstigheid bemoeilik ook soms ‘n korrekte diagnose. Soos die siekte vorder, en ‘n groter verlies aan insig volg, raak selfsorg toenemend ‘n probleem en meer en meer toesig is nodig om veiligheid van so ‘n pasiënt te verseker. (Gauthier S. Alzheimer’s Disease in Primary Care, 2nd Ed. Martin Dunitz Ltd. London, 1999). Later word deurlopende verpleegsorg in ‘n sorgeenheid, soos wat beskikbaar is by Huis Immergroen gewoonlik aanbeveel. By Huis Immergroen word so ‘n geliefde bejaarde, soms ook nie eers so bejaard nie, met liefde versorg. Intussen sien almal weer baie uit na die volgende braai op 18 Maart. Dankie, Tony’s Toolhire dat julle nie vergeet om ons inwoners te vergeet nie. Immergroenliefdegroete