Bedankingsbrief aan Piet Retief gemeenskap

Excelsior News - Letter to Editor
Excelsior News - Letter to Editor

Bedankingsbrief aan Piet Retief gemeenskap – Kotie Herholdt Mkhunyane Reservaat.

Hiermee wil ek en my vrou Hanlie graag die gemeenskap van Piet Retief bedank wat ons bygestaan het tydens die voorval waar ek deur gewapende rowers geskiet is op die nag van die 7de Oktober 2015. Ek het lank besin oor so brief want ek is so bang ek los iemand uit, veral omdat ek weens bloedverlies die aand, en die deurmekaar tyd daarna, nie alles en almal goed kan onthou nie, ek gaan dus net volstaan by ‘n opregte dankie. Die feit dat ek vandag lewe en my been behou het, is ‘n mediese wonderwerk en daarvoor loof en prys ek my Hemelse Vader. Alle eer aan God.

Dankie aan elkeen wat die aand reageer het en ‘n bydrae op watter wyse ook al gelewer het (nooddienste, dokters, polisie, boere, gemeenskap, vriende, familie en gebedsgroepe). Aan elke persoon (daar was so baie van jul en regtig te veel om te noem) wat deur ‘n gebed, boodskap, oproep, bord eetgoed, vervoer of wat ook al aan ons gedink het DANKIE. Julle het ons staande gehou. Elke besoek in die hospitaal en ook by die huis het my regtig opgebou en gemotiveer. Eers as mens in so ‘n situasie is besef mens hoe Piet Retiewers kring trek om hul medemens en dit is werklik aanskoulik.