Rommel Uitdaging aanvaar

Rommel Uitdaging aanvaar
Rommel Uitdaging aanvaar

‘n Jaar gelede is die inwoners van Piet Retief in die Excelsior Nuus uitgedaag om, na aanleiding van die rommel wat oral gestrooi lê, hulle eie omgewing te verfraai.

Louis Kotze van die Piet Retief Poskantoor het blykbaar die bogenoemde uitdaging aanvaar en ‘n pragtige, praktiese tuintjie voor die poskantoor tot stand gebring. Daar is nou al baie gekla en gepraat oor die gemors waarin die Markstraat sypaadjie verkeer, ook by die poskantoor aan die westekant. Baie stemme word ook gehoor oor die strooi van rommel oral – ook in plekke wat as verfraaiing behoort te dien … Gelukkig het Louis en sy span nou die gedeelte voor die poskantoor, aan die suidekant pragtig verfraai. Plante wat min water benodig is geplant (waterbesparing word in gedagte gehou), potte is vasgemessel (diefstal word beperk) en daar is water en kos vir voëltjies (natuurlewe word beskerm).

Hier is behoorlik ‘n klein paradysie geskep tussen al die gemors en dit is werklik nou aangenaam om te gaan pos haal en vir ‘n wyle die voëltjies in die tuintjie te sien baljaar. Bowenal word hierdie tuintjie pragtig skoongehou en is daar geen onkruid te bespeur nie en geen rommel word geduld nie. Mooi so, Louis en jou span! Wie gaan nóg hierdie uitdaging aanvaar?

‘n Soortgelyke spasie net om die hoek ...
‘n Soortgelyke spasie net om die hoek …