Praktiese Skietklub nuus

Ons top 3 skuts van 2015
Ons top 3 skuts van 2015

Verlede Saterdag het Piet Retief se Praktiese Skietklub die eerste MPSA ligabyeenkoms van 2016 aangebied.

As ek nou net een word moet gebruik om die aanbieding te beskryf, kan ek net aan een dink: “Professioneel”. Die bane was weereens van hoogstaande gehalte, nie net die tegniese uitleg daarvan nie, maar ook die ma-nier waarop die bane gebou is en die uitdaging aan die skuts gestel het. Dit het weereens net positiewe kommentaar van ons besoekers uitgelok.

Ek moet sommer dadelik die manne wat Vrydag die warm son getrotseer het om die bouwerk te doen, hartlik bedank. Sonder julle harde werk sou dit maar net nog ‘n ligabyeenkoms gewees het. Dankie ook aan Martin en Darryl van Deventer en Jaco Potgieter wat gesorg het dat die skuts genoeg te ete en drinke gehad het, en ook vir TWK wat gesorg het vir genoeg skaduwee met hulle kleurvolle gazebos by elke skietpunt. Dankie ook aan Janica Stephan-sen vir die sleurwerk met die admin. Sy het gesorg dat die uitslae sommer vinnig beskikbaar was. Ons twee groentjies in die klub, George Creydt en Hans Gerken, het hulle vuurdoop met vlieënde vaandels geslaag.

Alhoewel die senuwees maar aanvanklik bietjie geknaag het, het albei akkuraat en veilig geskiet. George het ook almal verras deur die tweede plek op een van die bane los te skiet. Welgedaan manne, julle skiettoekoms lyk sommer baie loodkleurig! Ons twee ‘babas’, Kyle van Deventer en JC Potgieter (nou moet ek my woorde tel – Kyle is al twee jaar uit die skool uit, en JC, alhoewel nog op skool, is al groter as meeste van die ou manne!) het weer geskiet soos manne wat mik vir groenen- goud! Kyle was tweede algeheel, met 99.5%, en JC derde algeheel met 99.1%. En dit teen manne wat al jare skiet en baie keer provinsiale kleure verwerf het. Ons is trots op julle. Hou die voete op die grond en ‘n glimlag op die gesig, en julle gaan nog berge versit in dié skietsport!

Die Skietpieties het die standaardklas gedomineer, en na Kyle en JC het hulle soos volg presteer:

  • Dawie de Bruin – 89.2%,
  • Heinz Dirsuwei – 81.6%,
  • Denzil Venske – 81.4%,
  • Paul Mouton – 76.8%,
  • Johan Prinsloo – 74.6%,
  • Johnny Naudé – 73.5%,
  • Hans Gerken – 59.5%,
  • George Creydt – 55.6%,
  • Roan Jacobs – 40.9%,
  • Jurie Jacobs – 38.9% en
  • Nic Stephansen – 33.8%.

Welgedaan, manne, Piet Retief kan trots wees op julle prestasies. En dit lyk vir my dat die klem al meer na die jonger geslag skuts toe skuif. Die ou manne sal een van die dae met heimwee moet terugdink aan die dae “toe ons nog so vinnig en rats was…..” Gedurende die naweek van 9 en 10 Julie, bied Mpumalanga weer vir die eerste keer in ‘n lang tyd ‘n “National” aan. Dan kom skuts van oor die hele Suid- Afrika op Komatipoort bymekaar vir die tweede van drie nasionale kampioenskapsbyeenkomste om die kaf van die koring te skei. Ons Skietpieties is getaak om drie van die bane daar te gaan bou, ‘n eer waarop ons werklik trots kan wees. Die nasionale byeenkomste word ook gebruik om te bepaal wie by die volgende Wêreldkampioenskappe die groen-en-goud oor die kop gaan trek. En ek weet van ‘n paar jong Skietpie-ties wat definitief een of ander tyd baie hard aan daardie deur gaan klop. Vir meer inligting oor ons doen-en-late, kontak asseblief vir voorsitter Denzil op 083 625 1345. Hy sal al jou vrae taktvol en met groot wysheid kan beantwoord. Kom gee die gogga kans om te byt, dis lekkerrrrrr! Vra maar vir Hans en George! Wederom, Lood.