Piet Retief VLU nuus

VLU vier vanjaar sy mondigwording en kyk ook hoe ander kulture dié mylpaal vier.

Die maand van die liefde se vergadering was vol pret. Flox Vorster het die vergadering op ‘n gepaste wyse geopen en gesê dat vriende kosbare kleinode in die lewe is en dat hulle gekoester moet word. Sy het ook gesê Jesus se liefde moet uit ons uit straal. Lindiwe Hlatswayo het vertel hoe die Zoeloes dit doen, soos wanneer ‘n meisie 21 word en gereed gemaak word om te trou. Fees word gevier met ‘n bees wat geslag word.

Die jong meisie moet dan ‘n druppel gal drink en van die vet word om haar skouers gehang. Die volgende dag word daar vroeg opgestaan, geswem in die rivier, geëet en gedans dat die stof so staan. So word die jong meisie dan gereed gemaak om in die huwelik te kan tree. Dit is lekker om meer van mekaar te kan leer. Die produk van die jaar is die eier en Linda Johannes het aan elkeen ‘n gekookte eier gegee waarvan ons, met die kap van ‘n balletjie, die boonste gedeelte netjies gekraak het. Dit was pret en die naam van die “gadget” is EIERDOPMOETBREEKPLEKKIEVEROORSAKER in Afrikaans en in Duits EIERSCHALENSOLLBRUCHSTELLENVERURSACHER.

Dankie Linda ons het sommer baie geleer! Linda Johannes het ons ook meer geleer oor die bome van die jaar, naamlik die gewone wildevy (ficus thoningii) gewone witbos (maerua cafra) en die knoppiesboontjieboom (maerua angolensis). Al drie hierdie bome aard besonder goed in ons streek. Hierna het baie pret gevolg. Met interessante skoensoolpatrone het ons ongebleikte lappe in omtwerperstukke omskep. Hierdie nalatenskap van Nettie Symington (die ongebleikte materiaal) word baie waardeer. Daar is lekker gekuier om ‘n koppie tee en koffie terwyl dit heerlik gereën het. Tot volgende keer, VLU-groete.

Piet Retief VLU-nuus