Padhardloopnuus

Padhardloopnuus
Padhardloopnuus

Padhardloopnuus – Deur dik en dun, van krag tot krag. Die heel eerste Assegaaimarathon het op Saterdag 13 Februarie 1988, eerskomende Saterdag, dag en datum presies 28 jaar gelede, plaasgevind.

Aan ervaring het dit ons wel ontbreek maar beslis nie aan geesdrif nie. Omdat ons goed geweet het hoe min ons geweet het, het ons eenvoudig deurlopend bly fokus op die verskillende aspekte: Voorberei-ding van die terrein en die roete, werwing en skoling van verversingspunte en, les bes, die absolute noukeurige hantering van die inskrywings en die eindpunt. Soos ‘n Gideonsbende het ons die oormag aangedurf; en verslaan. 132 Deelnemers (ons het, heel oordadig vir 300 beplan) het die wedloop voltooi.

Die begin- en eindpunt was by die eertydse perdryklub en die roete was die Moolmansirkel: Uit op die Pongolapad, regs tot by Moolman en terug op die Paulpietersburgpad. Die opkoms het flink verbeter tot ‘n hoogtepunt van 246 in 1991, waarna dit op rondom 200 gestabiliseer het. In die jaar 2000 het ons ingetrek dorp toe, waarna twaalf maal kloksgewys om die Moolmansirkel gevolg is deur agt maal kloksgewys om die Wittenbergsirkel: Uit op die Paulpietersburgpad, regs verby Wittenberg en oor die Boesmanspruit en terug op die Wakkerstroompad.

Die hoërskool, die gewese karavaanpark en veral die laerskool het as beginen eindpunte gedien. Deelnemergetalle het, soos elders, ook hier plaaslik dermate afgeneem dat ons teen 2007 ernstig oorweeg het om handdoek in te gooi. Wel, ons het nie! Sedert 2008 (toe ons by Spur begin en geëndig het) gebruik ons die huidige uit-en-terug roete op die Mahambapad: tot daar onder knap duskant die Assegaairivier en dan nog boonop terug ook. In 2009 en 2010 was die Cultural Village ons basis waarna ons die rugbyklub ons tuiste gemaak het. Reeds gedurende die negentigerjare van die vorige eeu het ons, nadat ons eers met ‘n vyftienkilometerwedloop geëksperimenteer het, die Assegaaihalfmarathon op die spyskaart bygevoeg.

Op 20 Februarie sal ons reeds vir die derde keer die Assegaai 3-in-1 (die marathon, die halfmarathon en die tienkilometerwedloop) aanbied. Die “tien” het self ook al ‘n onmisbare bygereg geword. Vanjaar is daar ook weer ‘n 4,9 km wedloop op die spyskaart. Ons het deesdae ‘n rykdom van ervaring om van te put maar leer steeds elke jaar meer. Die geesdrif bly nog net so aansteeklik. Laat waai, Assegaai! O ja, net so terloops, die deelnemers aan die 10-kilometerwedloop en die halfmarathon draai darem vroeër al om. Nou toe nou.