Nuus uit Huis Immergroen

Huis immergroen
Nuwe personeellid by ontvangs, Lizelle Smit
In die potte by die ingang van Huis Immergroen het die primulas van vroeër nou plek gemaak vir impatiens of vly-tige liesbette (busy lizzies) soos die blommetjies ook bekend staan.

Enigeen wat al van hierdie blommetjies in die tuin of potte gekweek het sal weet, hulle wys gewoonlik regtig baie vinnig as hulle dors word en verlep dan sommer gou. Sodra hulle ‘n klein bietjie water kry, lyk hulle vinnig weer vol lewe en verfraai die omgwing om hulle. Mense, ook bejaardes is maar net so – ‘n klein bietjie aandag en liefde laat ons en hulle behoorlik blom. Baie mense vier wêreldwyd Valentynsdag, voor, op en selfs ‘n bietjie ná 14 Februarie elke jaar. Die kleuters van Elfieland Kleuterskool en hulle onderwyseresse het hierdie jaar die liefde na Huis Immergroen geneem.

Hulle het pragtige liedjies oor die liefde gesing en sjokolade aan elkeen uitgedeel. Alhoewel hulle nie kon toegelaat word in die afdeling vir veswakte bejaardes nie, is die versekering ontvang dat elke liewe inwoner sjokolade ontvang het. Baie dankie Elfieland kleuters, onderwyseresse en ouers! Wat ‘n heerlike oggend was dit nie vir die inwoners nie. Julle het beslis met ‘n bietjie liefdeswater hierdie “blomme” weer laat blom. Vandeesweek word ‘n nuwe gesig, dié van Lizelle Smit, verwelkom in die personeelspan van Huis Immergroen. Baie welkom, Lizelle!

Mag jy lank en gelukkig deel wees van hierdie merkwaardige span en ook hier blom en groei. Lizelle gaan die ontvangskantoor beman. Sy sal navrae hanteer, rekeninge behartig en so meer. Daar word egter steeds naarstiglik en dringend na ‘n verpleegdiensbestuurder gesoek om diens by Huis Immergroen te aanvaar. Die geskikte kandidaat moet geregistreer wees by die SARV (Suid-Afrikaanse Raad vir Verpleegsters) en so gou moontlik diens aanvaar. Dankie vir alle besoeke en skenkings! Onthou steeds om ons te onthou en ons geliefde inwoners so te laat blom. Immergroenliefdegroete