Nuus uit Huis Immergroen

Tannie Marie Coetzer 25-09-1923 tot 20-01-2016
Tannie Marie Coetzer 25-09-1923 tot 20-01-2016
Groot hartseer is weer hierdie week ondervind in Huis Immergroen, toe een van die geliefde inwoners gesterf het.

Mev. D. M. Coetzer (tannie Marie) is op Woensdag, 20 Januarie, op die ouderdom van 92 oorlede. Sy is Mev. Annatjie Nel se moeder en het in Huis Immergroen gewoon sedert Oktober 2014. Annatjie sê haar ma was ‘n engel wat nog net vlerke gekort het. Selfs die dokter het gesê dat sy gemoedelik was en altyd dankbaar vir alles wat enigiemand vir haar gedoen het. Mev. Susan Bezuidenhout, lid van die proffessionele span by die tehuis, het onlangs ‘n operasie ondergaan. Haar kollegas en die bestuur en inwoners van die tehuis bid haar beterskap en spoedige algehele herstel toe.

Hulle hoop dat sy sommer gou weer op die been sal wees. Die versoek dat enigiemand wat op een of ander manier ‘n bietjie musiek met die bejaardes kan deel, dit gerus moet doen, het nie op dowe ore geval nie. Baie, baie dankie aan die Engelbrecht egpaar wat op Vrydagaand, 22 Januarie, kom musiek maak het vir die inwoners. Ons het met party van hulle gesels en dit is duidelik dat hulle dit besonder baie geniet het. Sê een dame: “Hy het tot van Steve Hofmeyr se liedjies gespeel.” Dankie ook vir die lappies, Mevrou. Die inwoners hoop dat julle sommer gou weer sal kom kuier. Met die heerlike kuier, het Huis Immergroen weer nuwe vriende bygekry. Ander lesers van die Excelsior Nuus word aangemoedig om ook so ‘n tydjie af te knyp en julle musiekskat te kom deel met die inwoners.

Onthou om hierdie besondere mense te onthou en ‘n paar uur van hulle lang dae te verhelder en hulle te laat vrolik wees. Musiek kan voorgespeel word deur middel van instrumente of CD’s of ou langspeelplate. Groepe kan kom optree en sing, enigiemand is welkom?! Baie van die bejaardes is regtig lief vir musiek. Hierdie week wys ons julle hoe knap tannie Breggie Nel “Fair Isle” breiwerk doen. Tannie Shorty is nou aan’t bababaadjies en “booties” brei. Dié tannies maak self die lang dae korter. Daar word steeds dringend ‘n geregistreerde verpleegsuster benodig by die tehuis. Daar is behuisingsvoordele gekoppel aan die pos.

Kontak Ellen te 017 826 4918 in hierdie verband. Immergroenliefde en groete.

Tannie Breggie Nel flink aan die brei
Tannie Breggie Nel flink aan die brei