Krieketklub storm voort

Piet Retief Krieketklub storm voort
Piet Retief Krieketklub storm voort

Dis ‘n nuwe jaar met nuwe uitdagings op die krieketveld, maar Piet Retief Krieketklub het net voortgegaan waar hulle in 2015 geëindig het.

Op Saterdag, 6 Februarie, het ons spelers die lang tog aangedurf na Witbank om Witbank CC op tuisbodem aan te durf in ‘n Premierliga bepaling. Dit was ons eerste wedstryd ooit teen Witbank en ons was erg onseker oor wat op ons wag. Die tuisspan was egter vol selfvertroue om die “klein” dorpie, Piet Retief, aan te vat. Witbank het die loot gewen en sonder aarseling PRKK ingestuur om te kolf. Daar is selfs gespot dat die wedstryd voor middagete oor sou wees.

Ons kolwers het egter ander planne gehad. Tiaan Naude en Mohammed Essa het ‘n mooi openingsvennootskap van 63 lopies gehad voordat Mohammed bvp betrap is. Tiaan Naude het voortgegaan om op ‘n skitterende 74 lopies te eindig. Daarna het Henk Swazi Nel en Freedom Buthelezi voortgegaan en die moed van die Witbank spelers gebreek. Swazi eindig met 55 en Freedom met 58 lopies. Piet Retief Krieketklub eindig met 278 lopies. Witbank CC was gou in die moeilikheid met 4 lopies vir 3 paaltjies. Freedom Buthelezi was ‘n ster met 5 paaltjies vir net 20 lopies in 6 beurte. Hy is goed bygestaan deur Anthony Yiollaris en Miguel Macado met 2 paaltjies elk. Witbank CC word uitgeboul vir net 110 lopies en Piet Retief wen dus met 168 lopies. Voorwaar ‘n pragvertoning.

Ons hartlike dank weereens aan SASOL Piet Retief, Supa Quick en Anchors Inn wat die span so pragtig bystaan. Sonder sulke hulp sal die klub maar moeilik groei. Ons volgende wedstryd vind eerskomede Saterdag teen SACE, ook van Witbank, plaas. Hierdie wedstryd vind tuis te Hoërskool Piet Retief plaas. Die skool speel ook ‘n groot rol in die voortbestaan van die klub. Iman Rens is hier instrumenteel as dit kom by die puik voorbereiding van die velde. Vir verdere inligting aangaande oefentye, spelers of wedstryde skakel 076 287 1964. Eugene Nel (President PRKK)

Piet Retief Krieketklub storm voort
Piet Retief Krieketklub storm voort