Hope kreatiwiteit in Huis Immergroen

Huis Immergroen
Tannie Toy met ‘n lapverfskilderytjie waarmee sy nog besig is

Verjaardae word soms groot gevier in Huis Immergroen, soos verlede week toe oom Koos Joubert verjaar het.

Oom Koos se verjaardag was ‘n groot mylpaal, hy het op 13 Januarie ‘n volle 80-jaar oud geword! Baie geluk oom Koos! Sy skoondogter, Elrina, het gesorg vir smaakvol gedekte tafels en ballonne, en heerlike eetgoed! Michael Blignaut en Jenny van Zyl was ook weer op hulle pos en het die inwoners en oom Koos se familie en vriende, wat die geleentheid wel kon bywoon, met pragtige sang en musiek getrakteer. Dankie, julle.

Verlede week is daar berig dat sommige tantes in Huis Immergroen baie kreatief is. So het tannie Shorty Brits verlede week ‘n beurt gekry en sy het ons gewys hoe pragtig sy kán brei. Hierdie week word tannie Toy Coetzer en haar kuns aan die lesers voorgestel. Sy het op 84-jarige ouderdom eers begin skilder en geniet dit baie! Sy kla net dat ‘n mens so sukkel om kunsvoorraad in die hande te kry hier plaaslik. Sy vind ook dat spasie effens van ‘n probleem is.

‘n Mens se kamer in ‘n tehuis is immers nie regtig geskik of groot genoeg vir ‘n kunsateljee nie. Dit is ‘n voorreg om te sien wat sy alles aanvang, met, onder andere, lapverf, akrielverf en blomverf. Pragtig Tannie! Hou so aan. Een van die dae hou ons ‘n uitstalling. Recently we had a visitor for two days. We really loved having you here, Mrs Hawa Bee Bee Gaffoor. (She is the mother of Mrs Carrim). You are more than welcome to come and stay again. Love and regards from all at Huis Immergroen. Groete en Immergroenliefde vir julle week.

Hope kreatiwiteit, koek eet en kuier in Huis Immergroen
Baie geluk met daardie 80ste verjaardag oom Koos