Groentjiekonsert 2016

Groentjiekonsert 2016 Ligte, Kamera, Aksie

Groentjiekonsert 2016 – Ligte, Kamera, Aksie – “Met pragtige kleurvolle bewegings soos die van ‘n vlinder, maak hulle dit lyk of die musieknote kan skilder.”

Saam met kinderlike opgewondenheid, en ‘n glimlag wat strek van oor tot oor, staan 2016 se ywerige Graad 8’s op die lowergroen gras buitekant die saal, en trippel van die opgeboude energie om vir elke mens in die gebou langsaan te wys hoe hard hulle die afgelope twee weke aan die Groentjiekonsert geoefen het. Daar staan ‘n Kersvader, mooi uitgevat in sy pak, ‘n paar elfies perfek geklee, en hier-endaar ‘n karakter wat so effense Kinkel in die kappie in ons gewone Kersfeesfeesviering plaas. Die tema van die hierdie jaar se konsert is: “SAVING CHRISTMAS.” Bloed, sweet en natuurlik trane van al die lekker lag, asook ‘n paar grys hare sit agter die groot sukses van die bekende jaarlikse Groentjiekonsert. Daar was dae wat dit gevoel het of niks ooit bymekaar gaan kom nie, en ewe skielik, soos 1, 2, 3 was alles perfek, asof Kersvader dit as ‘n vroeë Kersgeskenk aan die Graad 8’s en Kultuurraad van 2016 gegee het.

Elke Graad 8 het gedurende hierdie twee weke baie herinneringe gemaak wat hulle vir altyd sal koester, maar vir nou is dit eers tyd om die volgende spierwit blaadjie om te slaan, jou belofte aan die skool altyd met die grootste trots in jou hart saam te dra waarheen jy ookal mag gaan. Ons bedank graag ieder en elk wat deel was van die beplanning, afrigting en enige soort hulp met die Groentjiekonsert van 2016. ‘n Spesiale dank gaan ook aan Juffrou Bernize du Toit, Juffrou Nqobile Mdletse en Zainah Gangat asook die Uitvoerende Raad vir al hulle moeite en opofferings. En dan, julle Graad 8’s wat julle lekker avontuur nou in die hoërskool begin – Onthou altyd, die volgende vyf jaar is wat JY daarvan maak! Gaan VOLUIT, doen ALLES, LAG, GROEI, WEES JOUSELF en laat JOU liggie altyd skyn! VOLHARD / PERSEVERE!

Annémi Nell Graad 12C