Agri Piet Retief help

Agri Piet Retief gaan oor tot aksie

Teen Woensdag, 20 Januarie, het boere wat lede is van Agri Piet Retief reeds 1000 voerbale geskenk en was twee vragte bale reeds oppad na Kathu in die Noordkaap (Imperial Logistics het hierdie vervoer behartig).

Die huidige knellende droogte het menige boer byna, of heeltmal, moedeloos en weet hulle nie meer herwaarts of derwaarts nie. Waar welkome reën al uitgesak en reeds baie verligting gebring het, bring dit nie noodwendig kitsoplossings nie. Die droogte en gepaardgaande buitengewone hitte wat ervaar is, het waterbronne uitgedroog en die veld dermate beskadig dat daar selde nog uitkoms is vir diere. Soos oral in die media bekend gemaak is, is oeste skraal en vee vrek van honger en dors. Agri Piet Retief het op Maandag 18 Januarie besluit om in te gryp en dit wat hulle het, waarmee hulle gesëen is, met die boere in nood te deel.

 

Meer vragte word gestuur na onder andere die Vrystaat, Noordwes, Natal en Swaziland, waar boere reeds op hulle knieë gedwing is. Ons het op Donderdag, 21 Januarie, gaan kyk hoe die bale op Mnr. Tommy Ferreira se plaas gelaai word, waarvandaan TWK dit vervoer het na die Vrystaat. Die vervoerkoste is baie hoog aangesien slegs sowat 50 van die yslike bale (hulle weeg elk omtrent 230 kg) per rit op die vragmotors gelaai kan word, vir vervoer na die noodgeteisterde dele van die land.

Dit is ‘n allemintige proses om al die bale te laai op elke boer se plaas en dan verder vandaar te versprei. Dit is weer eens met trots dat ‘n mens jouself ‘n Piet Retiewer kan noem, wanneer hierdie omgewing se boere en besighede hulle hande so diep in die sak steek en ander help! Dankie TWK en Piet Retief Agri-boere! Nog meer voer en kontant word benodig vir Agri SA se rampfonds. Ons is nie almal boere of vervoerkontrakteurs nie, maar indien u dalk finansieel wil bydra om van die vervoerkoste te help dra kan u die volgende rekening daarvoor gebruik:

Agri Piet Retief, First National Bank, Rekeningnommer: 53354114566, Piet Retief. Takkode: 270844. Die geld word sonder versuim aan Agri SA oorbetaal vir noodleniging waar dit noodsaaklik is.

Wanneer u geld inbetaal, dui asseblief aan of dit vir dier (voedsel en vervoer daarvan) of mens (fondse om voedsel by rampgebiede self aan te koop) is.

Agri Piet Retief gaan oor tot aksie Agri Piet Retief gaan oor tot aksie Agri Piet Retief gaan oor tot aksie Agri Piet Retief gaan oor tot aksie