Pad van die dood

pad van die dood - N2 - Piet Retief
Vanweë die groot getal ongelukke word hier slegs op agt meer ernstige gevalle gefokus. Wat wel kommerwekkend is, is dat vyf van hierdie agt ongelukke op die N2, Ermelopad, plaasgevind het – vandaar die verwysing na die “pad van die dood”.

Nuusbulletins het die afgelope feesseisoen en vakansietyd gegons van berigte oor ernstige motorongelukke en die gepaardgaande verlies aan lewens. Alhoewel dit in ons omgewing rustig was in vergelyking met baie ander dele van die land, is ons hierdie grusaamhede nie gespaar nie. Slegs van 1 tot 31 Desember, is 23 ongelukke aangemeld in hierdie area. Tydens hierdie ongelukke is 46 persone lig beseer, 13 ernstig, 5 kritiek en 2 persone het tragies gesterf. ‘n Mens kan maar net wonder wanneer iets aan hierdie hoofroete gedoen gaan word om dit veiliger te maak byvoorbeeld deur dubbelbane, al is dit net met tussenposes, by te voeg.

Op 23 Desember 2015, het daar vier ernstige ongelukke plaasgevind, al vier op die N2 (Ermelo). ‘n Toyota Tazz het omstreeks 13:00 gerol nadat die bestuurder ‘n vragmotor probeer verbysteek het. Hy/sy het vermoedelik beheer verloor toe hy/sy ‘n botsing met ‘n aankomende voertuig probeer vermy het. Tydens hierdie ongeluk is een persoon ernstig en drie lig beseer.

Ongeveer 15:20, net anderkant die brug oor die Hlehlorivier, was daar ’n trompop botsing tussen ‘n Minibus-taxi en ‘n Opel Corsa. Vermoedelik het die Taxi ‘n sperstreep ignoreer en verbygesteek. Twee persone is krities beseer, sewe ernstig en agt lig tydens die botsing. Die bestuurder van die Corsa is blykbaar in die hospitaal oorlede.

Die derde ongeluk het kort hierna plaasgevind, net na 16:00 in die Iswepeomgewing. Volgens die bestuurder van ‘n Mazda-bakkie het die bestuurder van ‘n Clio by motors verbygesteek waar ‘n sperstreep dit verbied en toe van voor trompop met die Mazda gebots. Een persoon is oorlede tydens die botsing, drie is ernstig en twee lig beseer.

Om 21:45 het ‘n BMW gerol. Die oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie. Twee persone is lig beseer.

Twee ongelukke het die dag voor Kersfees plaasgevind, een weer op die N2 (Ermelo) en die ander een in Markstraat. Ongeveer 10:00 het die bestuurder van ‘n Nissan Almera vermoedelik ‘n Qashqai verbygesteek, vermoedelik te naby verbygery en in die proses aan laasgenoemde geraak (“touch”). Die Almera het gerol en op sy dak beland. Een persoon is ernstig en vier lig beseer tydens die voorval.

Ongeveer 16:00 die middag het ‘n Nissan- motor van agter met ‘n bakkie gebots in Markstraat. Die impak het die bakkie laat swaai en dié het op Avbob se stoep tot stilstand gekom. Twee persone is lig beseer.

Vier persone is lig beseer om ongeveer 10:00 op Kersdag, in ‘n ongeluk op die Pongolapad (N2). Die bestuurder van ‘n Hyundai Y20 was vanaf Piet Retief oppad na Empangeni en het vermoedelik ook aan die voertuig geraak wat hy verbygesteek het. Dit wil voorkom asof die bestuurder redelik “kop gehou” het, impak met die onderkant van die vragmotor nie kon vermy nie, maar nie gerol het nie. Vier persone is lig beseer tydens die voorval.

Reeds drie ongelukke is in 2016 aangemeld, die ernstigste waarvan op 3 Januarie op die Mahambapad. Blykbaar het diie band van ‘n Toyota Cressida gebars en die voertuig het gerol. Drie persone is lig beseer toe die voertuig gerol het.

Dit is duidelik dat meeste van die trompop botsings veroorsaak is deur motoriste wat onwettig verbysteek waar sperstrepe duidelik wys dat dit nie veilig is om dit te doen nie. Is kameras by sperstrepe nie dalk net so of selfs meer sinvol as om jaagduiwels vas te trek nie?