Mullerstraat opvolg

Mullerstraat

Nadat ’n groot bohaai opgeskop is oor die rommelstrooiing en vullisstorting in Mullerstraat, het die Mkhondo Munisipaliteit regtig moeite gedoen en die terrein pragtig skoongemaak.

Wat is dit tog met sommige mense dat hulle geen respek het vir die natuur en/of hulle medemens nie en boonop nooit leer nie?

‘n Kennisgewing is aangebring wat enige vullisstorting op die plek verbied. ‘n Sloot is ook parallel met Mullerstraat oor die “ingang” na die terrein gegrawe om dit moeilik te maak vir voertuie om daar in te beweeg vir storting. Wat ‘n nare ontdekking wag toe op ons, toe ons gaan kyk hoe dit nou daar lyk! Iemand het besluit om sy/haar huisafval binne in die sloot te gooi! Ag nee, sies man! Jy behoort jou erg te skaam! Moet ons kom kyk wie gebruik Organics-sjampoe, eet Steers wegneemkos en Kellogg’s ontbytgraan?

Die vlieë koek reeds lekker daar om jou gemors saam. Indien iemand jou op kamera sou vasvang, plaas ons die foto in die koerant en word jy nog met R500 beboet ook. Die boete en “name and shame” tegniek behoort egter nie nodig te wees nie. Waar is jou trots en skaamte? Dit is élkeen se verantwoordelikheid om die dorp en omgewing te help skoon kry en skoon hou. Kom ons staan saam in hierdie verband en verkla die skuldiges.