Jurie Pretorius, HPR se trots

Jurie Pretorius, HPR en Piet Retief se trots
Jurie by sy trotse ouers, Meisie en Wynand Pretorius

Jurie Pretorius is ‘n Piet Retiewer in murg en been en het skoolgegaan te Laerskool – en Hoërskool Piet Retief.

Die motorwiele draai en die vierjarige Jurie Pretorius sit gewapen met sy blokkiesboek, potlood, uitveër en rooipen – hy is reg vir “somme maak” en Ma moet merk met die rooipen … So vertel ma Meisie het Jurie Prtorius maar altyd van somme gehou en het van kleins af hard gewerk en altyd goed presteer op skool. Dit het duidelik vrugte afgewerp en Jurie Pretorius was een van drie matrikulante van Hoërskool Piet Retief wat agt onderskeidings in die 2015-eindeksamen behaal het. Hy was vanjaar die enigste matrikulant wat volgehou het met addisionele wiskunde as een van sy agt vakke en een waarvoor hy eindelik die hoogste persentasie in Mpumalanga behaal het, naamlik 92%. Met sy gemiddeld van 93.5 % was hy vierde onder die matrieks van Mpumalanga (uit plus minus 56 000) en eerste in die Gert Sibande-streek. ‘n Puik prestasie!

Hy sê hy het deurgaans wonderlike onderwysers gehad en sou hy onderwysers móét uitsonder, sou dit sy graad 12-onderwysers wees. Hulle het baie ekstra tyd spandeer daaraan om die leerlinge te onderrig en ook voor te berei vir die eindeksamen. Hy bedank graag al sy onderwysers vir buitengewoon goeie onderrig. Jurie is ‘n gebalanseerde jongman wat daarvan hou om sosiaal te verkeer met vriende en hy hou veral van watersport. Op skool het hy ook ‘n bietjie rugby en krieket gespeel. Verder was hy van sommer baie jonk af ‘n regte klein entrepreneur. Hy het onder andere met varkies en kopkool “geboer” en die wins wat hy gemaak het, belê. Voorwaar ‘n man met ‘n kop op sy skouers. Met ‘n volledige beurs ontvang van die onderwysdepartement, vir sy buitengewone prestasie, vertrek Jurie eersdaags na Stellenbosch waar hy medies gaan studeer.

Sy ideaal is om eendag te spesialiseer in pediatrie (kindergeneeskunde). Pa Wynand en ma Meisie, is met reg regtig baie trots op dié slimkopseun van hulle, maar tewyl mens so met die drie van hulle gesels, is dit hulle dankbaarheid en nederigheid wat mens die meeste opval. Hierdie is mense wat weet wat genade is. Baie geluk met jou uitsonderlike prestasie, Jurie! Die span van die Excelsior Nuus se beste wense vergesel jou op die pad vorentoe. Mag jy ‘n baie suksesvolle kinderspesialis word en eendag ‘n groot verskil in baie kindertjies se lewens maak.