André van der Spuy – ‘n ware legende

André van der Spuy – ‘n ware legende
André van der Spuy het aan Parkinson’s gelei wat gelukkig goed onder beheer was, maar hy sterf op 6 Januarie 2016 op 84-jarige ouderdom aan kanker in die versorgingseenheid van die Onrus Manor Aftree-oord.

André was ‘n oud-inwoner en jarelange onderwyser te Hoërskool Piet Retief. Die ouer geslag inwoners sal hom en sy gesin beslis onthou. Hulle het nogal aan die Von Trapps van “The Sound of Music” herinner – in hierdie geval was (is) daar net meer kinders, ‘n volle tien van hulle. Saam met pa André is daar altyd gesing. André het diep spore getrap by Hoërskool Piet Retief waar hy vir meer as 20 jaar skoolgehou het en onder andere betrokke was by rugbyafrigitng, swem, kultuur (operettes) en veral ook met die kadette. Hier het hy saam met Hugo Paul, wat verantwoordelik was vir die orkes, spesifiek die drilpeleton tot groot hoogtes gelei en vele pryse is ingepalm. Die inwoners van die dorp, oudkollegas, vriende en oudleerlinge, sal die Van der Spuys, Pa en sy nege dogters, veral onthou vir hulle sang. En het hule nie mooi gesing nie! Hulle was ‘n instelling by die NG Kerk se jaarlikse Kerssangdiens! Dit was dan ook vir die dogters baie spesiaal om op Kersdag 2015, rondom pa André se siekbed weer saam met hom al die ou gunsteling Kersliedjies te kon sing en hiérdie keer het boet André (die jongste en nou reeds 39 jaar oud) saamgesing.

André van der Spuy het sy vrou Bobby (Hansen) op Richardsbaai se strand ontmoet. Sy het hier grootgeword en hulle het hulle hier gevestig en te Welverdiend (TWK se gastehuis) gewoon. Na 25 jaar in Piet Retief het André en Bobby en die 10 kinders, na Pretoria verhuis en is André lugmag toe waar hy eindelik as Kolonel afgetree het. Vroulief Bobby het hom in 1995 ontval. André se aftreeprojek was die bou van ‘n vakansiehuis in Marlothpark wat hy “Brokkie Son” gedoop het na aanleiding van Koos du Plessis se “Sprokie vir ‘n stadskind”. Die vakansiehuis in Bettysbaai, waar hy sedert 1996 (toe hy ook weer getroud is) gewoon het, is om dieselfde rede “Blou Saffiere” genome. Dit ontbreek ons aan ruimte om hier weer te gee wat vriende, kollegas, leerlinge, kinders, kleinkinders en familie oor André te sê het, maar hy het gewis ‘n groot impak op baie lewens gehad, hierdie diep gelowige man met die helder blou oë.

Hy was beslis sy kinders en kleinkinders se “hero” en die dogters sal vir altyd “Daddy’s little girls” (die lied wat hulle as kinders van groot tot klein in ‘n ry voor hom, saam met hom gesing het) bly. Die woorde van die lied som dinge nogal mooi op. André van der Spuy het aan Parkinson’s gelei wat gelukkig goed onder beheer was, maar hy sterf op 6 Januarie 2016 op 84-jarige ouderdom aan kanker in die versorgingseenheid van die Onrus Manor Aftree-oord. So verwoord sy dogter Bobbi die seer: “Maar sing sal ons. Vir pappa. Ons het altyd saam met hom hierdie woorde gesing: ‘…as Christus kom, in triomf en in glorie – en my kom haal, hoe groot die blydskap dan…’ En hier is dit nou. Ondenkbaar, maar waar. Hy is gehaal. Sy blydskap is groot. Ons harte huil… en jubel. Wederom, Pappa-lief.” Lisel, Treska, Sandra, Ronel, Fiona, Bobbi, Yolandi, Chandre, Madi en André, mag julle troos vind in al die wonderlike herinneringe aan julle pa.