‘n Kersfeesmaal by uitnemendheid!

‘n kersfeesmaal by uitnemendheid!
‘n kersfeesmaal by uitnemendheid!

Die bejaarde inwoners van Fanie Lombard te Amsterdam is behooorlik bederf met ‘n Kersfeesmaal op 27 November.

Die geleentheid is deur 47 persone bygewoon en die ander agt persone, wat nie die geleentheid kon bywoon nie, se kos is by hul woonstelle afgelewer. Die bejaardes wat teenwoordig was is behoorlik tot in die afgrond bederf met ‘n heerlike maaltyd, nageregte uit die boonste rakke, vars vrugte en wyn. Die susters van die AGS Kerk, wat elke Donderdag ‘n heerlike ete aan die bejaardes voorsit, asook hulle gades, is genooi om dié aand saam met die inwoners van Fanie Lombard te geniet. Behalwe vir al die ongelooflik smaaklike kos, is die aand verder ingekleur met raaisels wat gevra is. Geskenkies is oorhandig aan die-gene wat telkens die regte antwoorde op die raaisels gehad het.

‘n Vrolike atmosfeer het deurgaans geheers. Elke bejaarde het ook ‘n pakkie smullekker tuisgebakte koekies, deur die dienssentrumkookspan self gebak, ontvang. By Fanie Lombard word geglo dat die bejaardes behoorlik bederf moet word omdat elkeen van hulle dit verdien. Die dienssentrum se kookspan wil graag vir Naomi Victor (streeksbestuurderes van die SAVF) en die personeel van die SAVF op Ermelo, Annetjie en Louise in die besonder bedank.

Hulle het uit hul pad gegaan om die nodige fondse te bekom om ‘n Kersete vir die bejaardes te kon voorsit. Hulle sê dit is net moontlik gemaak deur die genade van ons Here wat in mense se harte werk. So het die welverdiende feesmaal vir die inwoners ‘n werklikheid geword. Na afloop van die aand het van die bejaardes gesê dat hulle nog nooit só ‘n ete bygewoon het nie. Ander het gesê dat dit vir hulle gevoel het asof hulle deur ‘n miljoenêr vir ete genooi is omdat die tafels behoorlik gekreun het onder al die kos! Die bejaardes bedank dan ook graag die kookspan vir so ‘n uithaler fees! Geseënde Kersfees aan almal.