Motorongelukke eis vyf lewens

Piet Retief N2 Motorongelukke

Sewe redelik ernstig tot baie ernstige motorongelukke, in en om Mkhondo, is aangemeld in die tydperk vanaf 26 tot 29 November.

Ongeveer om 12:00 op Donderdag, 26 November is vier mense lig beseer in ‘n motorongeluk naby Skurwerandjies op die Amsterdampad. ‘n Hyundai-voertuig het ‘n Isuzu-bakkie gesleep. Die band waarmee die sleepstang aan die bakkie vasgemaak was het vermoedelik gebreek en die voertuig het losgekom en vermoedelik daarna gerol. ‘n Beroep word nogmaals op lesers gedoen om oor die feestyd nog versigtiger as ooit te bestuur. Wees wakker en oplettend. Ry versigtig en vermy dit om in die donker te bestuur. Jou bedagsame bestuurstyl kan dalk net jou lewe en ander se lewens beveilig.

Die tweede motorongeluk van 29 November was ‘n baie ernstige een en het ongeveer om 19:00 plaasgevind op die N2 (Ermelopad) naby Iswepe. Presies wat gebeur het is nog nie heeltemal duidelik nie, maar blykbaar is ‘n silwer Toyota-bakkie wat vanaf Ermelo onderweg was na Piet Retief getref deur ‘n onbekende voertuig wat vermoedelik weggery het. Die bestuurder van die Toyota-bakkie het beheer oor die bakkie verloor en ‘n swart Navara asook nog ‘n wit Toyota-voertuig is getref. Tydens die voorval is drie persone noodlottig beseer, een is ernstig beseer en nog drie is krities beseer.

Een van die laasgenoemde drie is in die hospitaal oorlede. Beide die ander motorongelukke van 29 November het op die Ermelopad (N2) plaasgevind. Die eerste was ‘n botsing, omstreeks 01:00 tussen ‘n Isuzu-bakkie en ‘n wit Polo. Geen verdere besonderhede is tans beskikaar nie, aangesien beide bestuurders blykbaar die toneel verlaat het. Ook op 26 November, ongeveer 20:00 die aand is ‘n voetganger raakgery en noodlottig beseer naby Mapepeni (net verby Ajax, maar duskant Bisonbord). Sy is op die toneel oorlede. Hierdie saak word nog ondersoek. Ook op die Wakkerstroompad, op 28 November, is ‘n vrou noodlottig beseer nadat sy, om ‘n tot dusver onbekende rede, beheer oor haar voertuig verloor het en die voertuig die pad verlaat het.

Sy is op die toneel oorlede. Sondag, 29 November, het drie motorongelukke opgelewer. Ses persone is beseer tydens die eerste ongeluk, op die Pongolapad (N2). Die band van ‘n sleepwa, gesleep deur ‘n Landrover-voertuig, het vermoedelik gebars en die sleepwa het omgeval. Die voertuig het in die rigting van Piet Retief beweeg voor die ongeluk. ‘n Motoris het op 27 November omstreeks 23:00 of 00:00, op die Wakkerstroompad, blykbaar vir ‘n hond in die pad uitgeswaai, beheer oor die voertuig verloor en is die veld in. Niemand is tydens hierdie voorval beseer nie.