VLU – Als oor kruie

Van die dames wat die vergadering bygewoon het
VLU - Als oor kruie
VLU – Als oor kruie Na die heerlike reën van die naweek lyk die tuine sommer groen en die plante dankbaar vir die lafenis.

Piet Retief VLU tak vergader weer soos gewoonlik by die Greendoor Gastehuis en Helena Joubert, ons voorsitter, ruk beslis die spreekwoord haas uit die hoed met ‘n vol program. Santie du Toit open op gepaste wyse en vra: Hoe lyk ‘n vrou? Wie is vrou? Waar is vrou? Wat is vrou? Sy het die liefde van die Here in haar hart en ‘n altyd-luisteroor. Ons gas vir die dag is ons eie kruie fundi, Cecile van Zyl. Ons is bevoorreg om ‘n persoon met soveel kennis in ons midde te kan hê. Die bekendste van kruie is seker die pietersielie, waarvan die platblaar en die krulblaar seker die gewildste is. In die vroegste tye het die Grieke dit as ‘n simbool van roem en vreugde gebruik. Dis ook gebruik om grafte mee te versier en die soldate het dit selfs vir hulle perde gevoer om hulle meer krag te gee.

Cicile van zylk
Kruie fundi, Cecile van Zyl

Die Romeine was die eerste om pietersielie in voedsel te gebruik. Dit help veral met die spysvertering. Pietersielie is veral ryk aan yster, magnesium, sodium, Vit A, B1, B2 en C. Die krui kan gekombineer word met meeste van die ander kruie. Basiliekruid: ‘n Meerjarigesoort groei in Indië en word as ‘n heilige kruid deur die Hindoes beskou en word gebruik om die tempels te versier. Dis ook algemeen in Antieke Griekeland en Rome gebruik. Dit het glo na die opstanding rondom Christus se graf gegroei en daarom word dit in sommige Griekse Ortidokse kerke gebruik om die heilige water voor te berei. Basiliekruid is goeie pasmaats met seldery, pietersielie en mint.

Dit word ook die tamatiekrui genoem omdat dit so goed saam werk. Die krui droog egter nie baie goed nie en word eerder in die vrieskas bewaar vir latere gebruik. Margareth Robberts het ‘n meerjarige basiliekruid gekweek terwyl die algemeen bekende kruid slegs eenjarig is. Origanum en marjolein kom voor in die Mediterreense streke, teen die hange waar die bokke en skape wei. Dit gee ‘n goeie smaak aan die vleis en verbeter melkproduksie. Dit word ook beskryf vir massering en selfs om lyke te balsem. Indien die kruie om jou vrugteboord geplant word voorkom dit dopluise en die plaag van miere. Die gebruik van die twee kruie is veral gewild in pastas en pizzas. Tiemie: Die krui het ‘n sterk smaak en komplimenteer veral skaapvleis.

Die ou Egiptenare het die krui gebruik veral vir sy antiseptiese eienskappe. Dis ‘n goeie preserveermiddel en word selfs gesnuif vir sinusitus. Die krui werk ook veroudering teë as dit gedrink word. Een teelepel gedroogte tiemieblare met 1 koppie kookwater daarop. Laat trek en drink gereeld. Goggas in die roosbedding kan ook beheer word deur tiemie as grondbedekker aan te plant. Roosmaryn komplimenteer die meeste geregte wat vrugte bevat. Roosmaryn het ook medisinale eienskappe en word gebruik vir diabetes, rumatiek, krampe en versterk die senuweestelsel. Salie-tee is ook baie lekker en gewild.

Selfs die groter blare word in ‘n degie gedoop en gebraai om saam met geregte te bedien. Grasuie is ‘n moet in elke huishouding. Knip die “baard” af en gebruik. Die plant loop weer uit en hierdie blomme is veral lek- ker in slaai. Die blomme van kruie kan net so lekker in geregte gebruik word soos die res van die plante. Hierna is ons lekker kreatief en Helena wys ons om “coasters” te maak deur twee stukkies glas opmekaar te plak met silicon. Ons kuier lekker saam om ‘n koppie tee en geniet Cecile van Zyl se kruiebrood. Die volgende vergade- ring in November is ons afsluiting en dan gaan ons net heerlik kuier.