Plaaslike skoonhede wen

Miss Teen SA, Antoinette Janse van Vuuren
antoinette 17 Oktober

Twee Piet Retief skoonhede het op 17 Oktober aan die Miss Teen South Africa (Universal) deelgeneem in Pretoria en groot sukses behaal.

Na strawwe kompetisie van regoor die land van Mosselbaai, Bloemfontein, Secunda, Potchefstroom en meer is Antoinette Janse van Vuuren, ‘n graad 10 leerder verbonde aan Hoërskool Piet Retief, gekroon as Miss Teen South Africa! Andrea Abrams, verbonde aan Mkhondo House as personeellid, is gekroon as tweede prinses. Sommer twee van die top meisies uit ons kontrei, sowaar iets om op trots te wees. Baie geluk julle twee.

So sê Antoinette en Andrea kan beslis meeste daarvan beaam: “Ek dink nie ek’t genoeg woorde om die verowering van dié titel enigsins te beskryf nie. Ek hoor hoe word my naam oor die luidspreker uitgeroep … Ek’t eers gedink dis ‘n droom of net my verbeelding, maar dit was die grootste, beste, realistiese droom. My boodskap aan elke liewe model, jonger en ouer as ek, is : ‘if your head is in the clouds, be sure your feet stays on the ground. Ek kan nie genoeg dankie se aan elkeen vir ondersteuning en motivering nie! Die kompetisie is glad nie iets van ‘jy wen en dan aanbeweeg’ nie, dis ‘n titel wat jy met trots dra en om ‘n voorbeeld te wees! Maak nie saak van waar jy kom nie, as jy dit kan droom, glo my, dan kán jy dit doen. Mag ek vir elke dame ‘n voorbeeld wees en SA se naam met ‘n hartlike trots dra. Ek sê baie dankie aan Alisha van den Berg: Jy is onvervangbaar.

Ek laat my eie motiverende gesegde in julle midde: “You don’t need any name in life, you are famous in our Father’s eyes.” Andrea sê hulle is op die verhoog voorgestel en moes ‘n vraag beantwoord voor die kroning. Sy bedank graag vir Jesus vir haar talent. Beide meisies is uitgesproke oor hulle Christelike geloof en leef dié waardes uit. Albei is modelle van Model Manifest Agency. Atoinette is onlangs ook aangewys as Facebook se Miss Teen Public Favourite nadat sy die meeste stemme gekry het. Baie geluk julle twee! Mag julle altyd so pragtig van binne en buite bly.