Oorwinning Piet Retief Krieketklub

Die suksesvolle span van die Piet Retief Krieketklub
Die suksesvolle span van die Piet Retief Krieketklub

Die PRKK (Piet Retief Krieketklub) is besig om van krag tot krag te gaan soos nog nooit tevore nie en is beslis nou ‘n span waarmee rekening gehou moet word deur die res van die Mpumalangaspanne.

PRKK is beslis die jongste klub in die hele provinsie met’n beperkte ledetal en min fondse, maar aan talent ontbreek dit hulle nie en hulle baie harde werk begin nou vrugte afwerp. Die span het verlede Saterdag, 31 Oktober, kragte gemeet met die Secunda/ Bethal Bulldogs. Voor hierdie wedstryd, was PRKK reeds die voorloper in die liga … en met hierdie laaste buitengewoon goeie oorwinning is die posisie net verstewig.

Nadat die kaptein, Henk Swazi Nel, die loot gewen het, is besluit om eerste te kolf. Dit was duidelik die korrekte besluit. Henk en sy aanvangsvennoot, Duvan Grobbelaar, het behoorlik onder die boulers ingeklim. Na ‘n skitterende openingsvennootskap van 198 is Henk uitgevang vir ‘n goeie 59 lopies. Kort daarna is Duvan ook uitgevang met sy telling op ‘n skitterende 109 lopies. Freedom Buthelezi en Armand Coetzee het voortgegaan waar die ander opgehou het. Freedom eindig met 73 lopies en Armand met 57. Armand se vertoning is beslis ‘n bewys dat die klub se ontwikkelingsprogram werk. Armand is ‘n jongman in Graad 8, maar die klub het sy potensiaal raakgesien en hom ‘n kans gegee. Hy het homself nou ingewortel in die span. PRKK eindig sy kolfbeurt op ‘n reuse 429 lopies in 50 beurte. Beslis ‘n rekord vir die klub.

Die Piet Retiewers volg die kolfbeurt op met ‘n selfs beter poging op die veld. Al die boulers blink uit en word goed ondersteun deur die veldwerkers. Baie min loslopies is afgestaan en geen vangkans is verbrou nie. Henk Swazi Nel oes meer as ‘n handvol paaltjies in en eindig met 6 paaltjies vir net 29 lopies. Hy word goed ondersteun deur Freedom Buthelezi (2 paaltjies) en Anthony Yiollaris en Heinrich Schutte met 1 paaltjie elk. Die Bulldogs word uitgeboul vir net 117 lopies. Dit beteken dat Piet Retief die wedstryd met ‘n reuse 312 lopies wen! Supa Quick, Munch en Sasol word van harte bedank vir hul bydraes en pryse.

Munch word ook bedank vir die borg van verblyf vir spelers wat ver moes reis. Die volgende wedstryd word eerskomende Saterdag, 7 November, teen Embalenhle gespeel. Ongelukkig is dit ‘n wegwedstryd, maar daar word vertou dat dit ook in hierdie wedstryd, met al die ondersteuning wat die span tans geniet, baie goed sal gaan. Sterkte, manne, julle maak hierdie dorp sommer baie trots!

Henk Swazi Nel (59 lopies en 6 paaltjies)
Henk Swazi Nel (59 lopies en 6 paaltjies)
Rekordoorwinning vir Piet Retief Krieketklub
Duvan Grobbelaar (109) lopies