Ongeluksverslag

Excelsior News
In die Ongeluksverslag is Sewe redelik ernstige tot baie ernstige ongelukke is aangemeld vanaf 13 tot 17 Oktober. Op Dinsdag, 13 Oktober, het ‘n bakkie vermoedelik voor ‘n bus ingedraai op die N2 (Ermelopad) en ‘n botsing het plaasgevind.

Die bakkie het blykbaar vanaf die grondpad vanaf Mapepeni, naby Bisonbord, in die grootpad ingedraai en die bus was vermoedelik onderweg na Piet Retief vanuit Ermelo se rigting. Een persoon is lig beseer tydens hierdie botsing.

Excelsior News Excelsior News

‘n Jong voetganger is noodlottig beseer op Donderdag, 15 Oktober, weer eens op die N2 naby Ajax. ‘n Groot swaarmotorvoertuig, met ‘n dubbelwa, het in die rigting van Piet Retief beweeg. Die vragmotor was vermoedelik feitlik verby die voetganger toe laasgenoemde homself, met tragiese gevolge, klaarblyklik self teen die sleepwa van die vragmotor gewerp het.

Excelsior News

‘n Baie ernstige botsing het op Vrydag, 16 Oktober, op die Paulpietersburgpad plaasgevind so skuins voor 16:00. Beide voertuie betrokke in die botsing, het in die rigting van Piet Retief beweeg. Die bestuurder van ‘n Mercedes sedan het vermoedelik gepoog om ‘n vragmotor verby te steek by ‘n sperstreep. Die vragmotor wou blykbaar die ongeluk voorkom en het links van die geel streep gehou en ook stilgehou om die motoris die geleentheid te bied om verby te kom.Die Bestuurder van die Mercedes het op sy beurt vermoedelik gerem en die motor het begin tol waarna dit hard teen die vragmotor gebots het aan die linkerkant agter, soveel so dat die vragmotor teruggeswaai het in die pad. Die bestuurder van die Mercedes is noodlottig en ‘n passasier ernstig beseer.

Excelsior News Excelsior News

Daar was ‘n derde ongeluk op Donderdag, 15 Oktober, net na 18:00. ‘n Swaarmotorvoertuig wat in die rigting van Wakkerstroom beweeg het, wou blykbaar na regs draai by M&R. Die bestuurder van ‘n Polo het vermoedelik nie die vragmotor se flikkerende flikkerlig gesien in die reën nie en het probeer verbysteek. Die vragmotor het egter reeds begin draai en ‘n botsing het plaasgevind. Slegs een persoon is lig beseer tydens hierdie botsing.

Ook op Vrydag, 16 Oktober, hierdie keer weer op die N2 (Ermelopad) het ‘n botsing tussen ‘n minibus taxi en ‘n Volkswagen Jetta plaasgevind. Die botsing het in die donker, omtrent 23:30 plaasgevind nadat die bestuurder van die Jetta vermoedelik ‘n U-draai gemaak het reg voor die aankomende taxi wat toe met die Jetta gebots het. Die bestuurder van die Jetta het geskrik en van die toneel af weggehardloop. Niemand het enige beserings opgedoen tydens die voorval nie.

Excelsior News Excelsior News

Omstreeks 16:30 op Saterdag, 17 Oktober het ‘n bakkie met ‘n minibus taxi gebots in Pholapark. Die bestuurder van die taxi het stilgehou om passasiers af te laai. Die bestuurder van die bakkie, oppad na Piet Retief, het om een of ander onbekende oorsaak beheer oor sy voertuig verloor en met die taxi gebots. Twee persone is ernstig en een lig beseer tydens die botsing.

Excelsior News Excelsior News

Ook op 15 Oktober, het ‘n ongeluk in die reën plaasgevind. ‘n Voertuig het vermoedelik op die Assegaaibrug (Wakkerstroompad) ‘n plas water getref en die bestuurder het blykbaar beheer oor die motor verloor waarna die motor teen die kant van die brug gebots het. Niemand is beseer tydens hierdie voorval nie.

Ongeluksverslag