Huis Immergroen se hartseer en blydskap

Tannie Kitty de Jager (22 April 1933 - 16 November 2015)
Tannie Kitty de Jager (22 April 1933 - 16 November 2015)

Verlede week is berig dat Huis Immergroen nie minder nie as vier nuwe en /of tydelike inwoners kon verwelkom.

Dit is altyd vir die personeel baie lekker om al die nuwe gesigte daar te verwelkom en dan word die hoop ook altyd uitgespreek dat nuwe inwoners of besoekende inwoners hulle verblyf in die tehuis baie sal geniet. Soos die beloop van die lewe nou maar een maal is, moes daar hierdie week egter met groot hartseer weer van een van die inwoners afskeid geneem word. Tannie Kitty de Jager is op Maandagoggend, 16 November, op 82-jarige ouderdom oorlede. Sy het vroeër tydelik daar ingewoon nadat sy geval en haar heup gebreek het. Vanaf 22 September 2014 het sy egter permanent in Huis Immergroen gewoon. Tannie Kitty is op 22 April 1933, dieselfde jaar as die vertaling van die Bybel in Afrikaans, gebore.

Sy is Mev. I. Botha, onderwyseres te Hoërskool Piet Retief, se moeder. Die personeel en inwoners van Huis Immergroen betuig graag hulle innige simpatie aan Mev. Botha en familie. Daar word nou met groot opgewondenheid bestellings geplaas vir die aankope wat gedoen word met die geld ingesamel tydens die Greta Wiid-funksie. Meer inligting en foto’s hieroor volg later.

Immergroen-groete tot volgende keer.