Greta Wiid ‘n Huis Immergoenvriendin

Greta Wiid en Hanlie du Plessis
Greta Wiid

‘n Baie groot funksie met Greta Wiid as gasspreker is gereël vir Woensdagaand, 14 Oktober in die NG Kerksaal.

Eindelik kan sekere werklik noodsaaklike toerusting aangekoop word vir die verpleegafdeling van Huis Immergroen. Suster Hanlie du Plessis by Huis Immergroen het haar vriende van Piet Retief Life hospitaal vertel van die nood aan goeie toerusting in die verpleegafdeling van Huis Immergroen en so is die saadjie geplant … hierna was daar geen keer aan Magdel Fivaz, Chrisna Krynauw, Wian Nel en Hanlie du Plessis nie.

Om Greta te bekostig is donasies gekry en gasvrouens het tafels beman en gedek, Wian Nel en Linda van der Linde het kos gemaak, ‘n veiling is gehou en almal kan nou terugkyk op ‘n besonder suksesvolle aand. Gretha se boodskap was sonder skroom: huwelike vra harde werk, koester mekaar. Sy sê: “Hier is die ding: indien daar nie die regte ‘goed’ in ons tenk gegooi word nie, gaan ons kar nêrens nie.” Sy het ‘n eiesoortige manier om moeilike kwessies in huwelike op die man af aan te spreek. Woensdagaand, was geen uitsondering nie.

Elkeen van ons praat sy of haar eie taal van die liefde. Indien jou maat nie daardie taal verstaan of dan nie weet wat jy nodig het om jou “tenk” vol te hou nie, verloor ons mekaar in die besige stryd van die lewe. Dan kom ons op ‘n dag wanneer dit stil raak om ons, die kinders uit die huis is, werk nie meer so belangrik is nie en dan is ons vreemdelinge vir mekaar.

‘n Baie groot dankie gaan aan Greta vir haar besondere kommunikasie met almal teenwoordig en aan al die borge wat ‘n aandeel gehad het in die sukses van die aand. Sonder die gasvrouens was die hele poging nie moontlik nie. Hulle het hulle besonder goed van hulle taak gekwyt en die tafels was almal ongelooflik mooi gedek! Dankie. Julle is almal ware sterre. Suster Hanlie bedank graag almal hartlik vir watter bydrae ook al en sien baie uit daarna om met die bykans R70 000-00 onder andere ‘n hidroliese pasiënthyser, stortstilletjies (stort “commodes”) en gewone “commodes” aan te skaf. Jan-nee, Huis Immergoen het sowaar vele vriende.

Dankie! Immergroenliefde