Tanya se vordering

Tanya Hattingh (Slabbert)
beenmurgoorplanting
Die inwoners van Piet Retief bly die beste … Nadat twee artikels in die Excelsior Nuus verskyn het oor die lewensnoodsaaklike beenmurgoorplanting vir Tanya (Slabbert) Hattingh, is ‘n volle R150 000-00 in ‘n trustrekening inbetaal om dit vir haar moontlik te maak om die nodige operasie te ondergaan.

Tanya bedank graag elkeen wat die operasie moontlik gemaak het. Sy sê: “Baie, baie dankie aan elkeen wat ‘n bydrae gemaak het en elkeen wat boodskappe gestuur het en elkeen wat vir my bid.”

Daar is diegene wat inisiatief geneem het om die geld in te samel, ander wat die nuus versprei het (dankie in hierdie verband ook aan Mnr. Ken Burns en die Excelsior Nuus) en daar is diegene wat werklik groot finansiële bydraes gemaak het! Dankie vir so baie ondersteuning, die inwoners van hierdie dorp maak mens werklik trots! Tanya se broer, Albert (wat van Duitsland af moes kom), se beenmurg is op 7 Oktober geoes en Tanya het op 8 Oktober die oorplanting gekry. Sy moet nou in die isolasie-eenheid van die beenmurgoorplantingsafdeling bly tot einde Oktober.

Dit sal eers vanaf 18 Oktober duidelik wees of die nuwe stamselle deur haar liggaam aanvaar is en of die operasie dus wel suksesvol was. Op 13 Oktober het sy medisyne ontvang om haar immuunstelsel en daarna ook die immuunstelsel van die nuwe stamselle sterker te maak. Tanya het voor die ope-rasie verskeie bloed-oortappings gehad en aggressiewe chemoterapie en bestralingsbehandeling ondergaan en ontvang dit steeds. Daar word ook deurentyd ‘n stryd gevoer teen infeksie. Die dokters is egter baie tevrede oor hoe die oorplantingsproses sover verloop. Baie sterkte, Tanya, ons vertrou dat alles goed sal afloop.