Piet Retief wen stryd teen misdaad

afriforum
afriforum

AfriForum het na aanleiding van onlangse misdaadstatistiek ’n ondersoek geloods na die stand van misdaad in Piet Retief, Mpumalanga.

Wat ernstige misdaadaanwysers betref het AfriForum tot die gevolgtrekking gekom dat die voorkoms van misdaad in Piet Retief 50% laer as die nasionale gemiddeld is. Daar is ook tekens van ’n afname in misdaad, hoewel daar enkele uitsonderings soos seksuele misdrywe (84%), residensiële rooftogte (76%) en veediefstal (328%) is. Die beduidende toename in dwelmverwante misdaad stem ooreen met die landswye tendens, maar is teen 39% steeds laer as die nasionale gemiddeld.

“Ek het nog altyd vermoed dat ons ’n vreedsame gemeenskap is en dié statistiek bevestig dat die plaaslike SAPD in samewerking met gemeenskapspolisiëring uitnemend presteer! As mens in ag neem dat die munisipale area van Mkhondo uiters dig bevolk is en daar duisende wettige sowel as onwettige immigrante is, is dit duidelik dat ons nogtans die stryd teen misdaad wen,” sê Johann Weber, voorsitter van AfriForum se Piet Retief-tak. Hein Gonzales, die AfriForumorganiseerder in Mpumalanga, voeg by: “Piet Retief is ’n uitstekende voorbeeld dat misdaad doeltreffend bekamp kan word indien die SAPD met die gemeenskap saamwerk.

Gemeenskapsbetrokkenheid is die deurslaggewende komponent in die oorlog teen misdaad!” Residensiële rooftogte blyk egter steeds ’n groot probleem in dorpsgebiede te wees, en AfriForum versoek die gemeenskap om by die plaaslike buurtwag betrokke te raak en sodoende ’n verskil te maak. Volgens Joe Filter, Hoof van die Landbou-unie Buurtwag en Plaaswag, is die toename in dwelmverwante misdaad en huisrooftogte ’n direkte oorsaak van die toenemende aantal onwettige immigrante in die dorpsgebied. Afri- Forum is juis besig om saam met die plaaslike SAPD alle aanhoudingselle ten volle te herstel sodat daar beter immigrasiebeheer toegepas kan word.

Veediefstal bly ’n groot kopseer in die Piet Retief-gemeenskap. AfriForum, die Distrikslandbou- unie, die Veediefstaleenheid en die plaaslike SAPD is tans besig met ernstige gesprekke en beplan om ’n gekoördineerde aksie te loods om veediefstal te bekamp. Hulle beoog om rondlopervee van alle openbare paaie te verwyder – dié vee is nie net ’n ongeluksrisiko nie, maar is ook ’n sagte teiken vir veediewe. “Ek wil graag die hele Piet Retiefgemeenskap hartlik gelukwens met dié ongelooflike prestasie in die bekamping van misdaad. Julle is ’n voorbeeld vir die hele Suid- Afrika,” sê Ian Cameron, AfriForum se veiligheidshoof.