Padhardloopnuus

SA 42km Womens team 2015

Padhardloopnuus – Mpumalangaspan presteer.

Soos Aai-aai, die legendariesewitborskraai, het ‘n span padhardlopers hier uit ons eie provinsie die afgelope naweek ‘n draai op Mosselbaai, by die “groot see” gaan maak. Hulle het egter nie maar net ‘n lekker langnaweek by die see gaan deurbring nie, maar het op 26 September aan die Suid-Afrikaanse Marathonkampioenskappe oor 42,2 km deelgeneem. Na wat verneem word, was die roete heel uitdagend. Ntuthuko Maseko en Lovers Hlatshwayo (beide van LVCC) het puik presteer en het met tye van 2:32:16 en 2:32:48 onderskeidelik 20ste en 21ste geëindig. Dit was egter veral die dames wat hulle laat geld het. Linah Mhlongo (van Eskom AC) was, met haar spogtyd van 3:14:05, die eerste dame in die ouderdomsgroep 40 -49.

SA 42km Team 2015
SA 42km Team 2015

Dit was die heel eerste keer dat ‘n volle span van vier dames ons provinsie tydens die SA kampioenskappe verteenwoordig het en toe bring hulle sommer ‘n bronsmedalje huis toe vir hulle derde plek in die damesspankompetisie. Linah is gevolg deur Christelle du Plessis (3:25), Natasha Malan (3:28) en Petro Steenkamp (3:37). Christelle en Petro hardloop vir Middelburg Marathonklub en Natasha, uiteraard, vir die Assegaai Marathonklub.

Natasha se deelname aan die Suid-Afrikaanse Marathonkampioenskappe het sonder twyfel die kroon oor ‘n uiters suksevolle hardloopjaar ge-span. Nadat sy drie keer (onder andere tydens die taaie Assegaaimarathon) as dameswenner uit die stryd getree het, was sy die dertiende dame oor die eindstreep tydens die gewilde Loskop Ultramarathon oor 50 km. Op 31 Mei was sy die eerste Assegaaier oor die eindstreep in Pietermaritzburg toe sy die Comrades Marathon in 8:48:53 voltooi het. Baie geluk aan elke spanlid en ekstra baie geluk aan Natasha. Ons is uitermate trots op jou! Laat waai Assegaai!