Padhardloopnuus

Padhardloopnuus
Padhardloopnuus

Padhardloopnuus – Assegaaiers laat hulle steeds geld.

Ek is regtig baie jammer. Ek het regtig nie laas bedoel om ‘n doemprofeet te wees nie. Lentedag was toe mos regtig nie regtig die begin van die lente nie. Wat trouens gebeur het, is dat aldrie die naweke wat September 2015 tot dusver opgelewer het, koud en klam tot nat was. Ten spyte van dit alles, is die Assegaaiers tog wel aan die woel. Op 12 September het ons naamlik weer eens ‘n verversingspunt tydens die Woodpackers fietswedren beman. Ten spyte van die snerpende wind wat ons van Swaziland se kant af geteister het, het dit ons harte warm laat klop om ons fietsryvriende op ons beurt te kon help. ‘n Wheelersverversingspunt is mos hoeka al ‘n instelling tydens ons Assegaai drie-ineen.

Die “brekky buns” en cappuccino’s waarop ons onsself trakteer het, was los hande lekker genoeg dat ‘n mens daarmee op ‘n bemarkingstoer sou kon gaan. Op 16 September het ‘n mooi veld van begeesterde pretdrawwers aan ons eerste aandpretdraf van die nuwe seisoen deelgeneem. Dit staan vas dat elke deelnemer die oefening oor een of vier kilometer in die vars lug en die gepaardgaande samesyn terdeë geniet het. Ons maak op 14 Oktober weer so!

Dit is verder vir ons ‘n voorreg, en ons bedank almal wat bygedra het, om ‘n geldelike bydrae ten behoewe van kankerpasiënte te kon maak. Dit bly nou maar eenmaal lekker om ‘n Piet Retiewer en, om alles te kroon, boonop, ‘n Assegaaier te wees. Na wat verneem word, het Marius Schoeman gedurende die afgelope naweek ‘n Kaapse draai gaan maak. Pa Marius het nie maar sommer net by seun Fanie gaan kuier nie. Hulle het die Kaapstad-marathon afgedraf. Laat waai, Assegaai!

Die pretdraf was baie pienk vir kanker
Die pretdraf was baie pienk vir kanker