Nog nuus uit Huis Immergroen

Baie welkom tannie Erika Koch
Dit is altyd maar moeilik om iemand te groet, veral wanneer mens weet dit is vir die heel laaste maal … So het die tyd aangebreek dat ‘n geliefde inwoner van Huis Immergroen gegroet moes word.

Mnr. S. P. (oom Fanie) van Wyk is skielik oorlede op Saterdag, 10 Oktober, op die rype ouderdom van 88 jaar. Hy het vanaf Januarie 2013 in Huis Immergoen gewoon en sal baie gemis word. Oom Fanie was Henry en Stephan Britz se oupa en hulle en al sy familie word troos toegebid. Die personeel en inwoners van die tehuis betuig graag hulle innige simpatie aan almal wat na hom verlang. Mag julle baie mooi herinneringe aan hom koester.

Tannie Annatjie van der Sandt is tans ongesteld en in die hospitaal. Die personeel en inwoners mis haar en bid haar sterkte en ‘n spoedige herstel toe. Intussen het tannie Erika Koch besluit om permanent in te trek by Huis Immergroen. Baie welkom Tannie! Mag Tannie sommer gou lekker tuis voel en mag Tannie se verblyf hier tussen die gawe inwoners en personeel van Huis Immergroen lank en gelukkig wees. Die “Funky Treatz Sugar Creation Workshop” wat op 10 Oktober sou plaasvind, moes ongelukkig uitgestel word tot Novembermaand. Die presiese datum en ander inligting sal nog deurgegee word. Daar sal ook volgende week meer nuus oor die aand saam met Greta Wiid wees.

Vriende van Huis Immergroen en enige ander weldoeners, of voornemende vriende, word weer eens versoek om enige moontlike (dalk oorvloedige) vars produkte en veral vleis te skenk sodat die personeel kan volhou daarmee om behoorlike, gesonde en smaaklike etes vir die bejaardes voor te sit. Dankie aan almal wat gereeld deel, hetsy produkte óf tyd. Dit word meer waardeer as wat u ooit sal besef. Liefdegroete uit Huis Immergroen.

Van Wyk - Huis Immergroen
Mnr S.P. (oom Fanie) van Wyk (12 Mei 1927 – 10 Oktober 2015)