Lieflik, vroulik en vrolik

Lieflik, vroulik en vrolik
Lieflik, vroulik en vrolik

Dit is heerlike lente, die manne en dames se vere word reggeskud, kaste word reggeruk en almal het sommer ‘n goeie hupstoot woema om nuwe take en uitdagings aan te pak.

In tred met hierdie “lus vir die lewe” gier wat lente meebring, het die dames van die VLU se Kaleidoskooptak, hul maandelikse vergadering vir September by ons plaaslike bloemis se winkel gehou. ‘n Sprokiesmooi toneel het elke lid begroet soos wat sy die plaaslike bloemiste binnegestap het, en het die eienaar reggestaan met ‘n verskeidenheid van ruikers wat reeds gerangskik is.

Die geur van blomme het almal bekoor en het Silvia geen moeite ontsien om die dames van raad en daad by te staan nie. Want sien, hier-die vlytige dames sal een van die dae weer blomme rangskik by die volgende konferensie, en begin die hande reeds jeuk en die koppe klaar dink oor hoe die tema “fyn en vroulik” uitgebeeld kan word. Dit is net hier wat Sylvia elke liewe lid beïndruk het met haar vernuf en die voorbeelde van wat fyn en vroulik vir verskillende mense kan beteken.

Die dames sal voortaan weet hoe om met kleur, hoogte en bykomstighede sommer tjoef-tjaf ‘n kunswerk van blomme te rangskik. Silvia, vanaf elke lid van die Kaleidoskooptak, VERSKRIKLIK dankie. Jy het jou kennis met soveel liefde gedeel, en die praktiese demonstrasie en Maria wat sommer moes inspring en haar eie ruiker moes bymekaar sit, het gesorg vir hope pret, inspirasie en het jou kundigheid en die skatkis van jou kennis wat jy so vrygewig gedeel het, ons baie spesiaal laat voel. Baie, baie dankie.

Jacky, Rika en Hannetjie luister aandagtig na alles wat Silvia te sê het.
Jacky, Rika en Hannetjie luister aandagtig
na alles wat Silvia te sê het.