Elfieland-sirkus

Van die oulike hondjies
Van die oulike hondjies

“Elfieland ons kleuterskool in Piet Retief” So het almal heerlik saamgesing aan die einde van ‘n besondere aand in die NG Kerksaal, op Woensdag, 30 September.

Die personeel en kleuters van Elfieland Kleuterskool het vanjaar weer eens ‘n konsert uit die boonste rakke aangebied. Voor ‘n stampvol saal het hondjies, apies, olifante, seekoeie, robbe en leeus, sommige “uiterrrs gevaarrrlik” hulle verskyning op die verhoog gemaak. Die oulikste toertjies is gedoen en die pragtige kindergesiggies het gestraal. Buiten al die diere, was daar ook akrobate, “snake charmers” (deur ‘n paar blokfluitspelertjies voorgestel saam met die oulikste slange en dansertjies), “cowboys” met hulle perde, STERK manne, hoepeldansers (met hulle “hula hoops”), hansworse (of harlekyne) en sommer nog baie meer.

Diepe konsentrasie was sigbaar by party van die “hula”-dansertjies maar ‘n paar is regtig naby aan professioneel! Hulle balans en vaardigheid is voorwaar verstommend. Meeste van die sterk manne doen reeds op hierdie jong ouderdom opstote (“push-ups”). Nee kyk, hierdie kleuters het beïndruk – al die pad. Kleuters het, met “juffrou” Mari se hulp, self die verskillende groepe aangekondig. Die puik musiek en klank (verskaf deur Gerhard Oosthuizen van Cashpers) het die kleuters en gehoor dadelik in ‘n sirkusluim gebring. Die kleuters is pragtig begelei deur Jenny van Zyl en Michael Blignaut se ongelooflik, mooi sang het die kleuters se sang aangevul. (Jy kan maar daardie CD maak, Michael).

Die pragtige musiek, buitengewoon kreatiewe kostuums en dekor was al byna konsert genoeg om almal tevrede huis toe te stuur, maar die oorspronklike items en spontane kleuters was met een word onverbeterlik. Ja-nee, ‘n mens kon byna aanvoel hoe oorlede Tanna Prinsloo genoeglik glimlag omdat hierdie “baba” van haar na 47 jaar steeds van krag tot krag gaan. Baie van die huidige kleuters by die skool se ouers was immers self Elfielanders in Tanna se tyd en die kleuterskool is steeds “in die familie”. Baie geluk aan Mari, elke personeellid, ouers en kleuters en almal wat op een of ander manier betrokke was – hierdie was ‘n puik produksie!