Die wel en weë van Huis Immergroen

Mev. M.M. Rossouw word hartlik verwelkom in Huis Immergroen
Mev. M.M. Rossouw word hartlik verwelkom in Huis Immergroen

Na die heerlike reën word daar nou lekker tuingemaak by Huis Immergroen.

Nog blomme word in die voortuin geplant en die beddings vir die groentetuin word op die oomblik voorberei. Oom Gys Wessels is reeds oorgehaal om in hierdie tuin te woeker. Kompos is in die grond ingewerk en plantjies is gereed om geplant te word. Almal sien uit na die vars groente wat dié tuin gaan oplewer. Verlede week moes ons ongelukkig afskeid neem van Mev. Anette de Jager toe sy in die ouderdom van slegs 65 jaar oorlede is.

Mev. De jager het sedert April 2013 in Huis Immergroen gewoon – sy het aan Alzheimer se siekte gely. Sy is uit die NG Kerk, Kriel begrawe op Woensdag, 23 September. Almal by Huis Immergroen dink in hierdie tyd spesiaal aan haar eggenoot en kinders. Mag julle vertroosting vind in mooi herinneringe aan haar. Mev. M. M. Rossouw het teen die einde van Junie reeds by Huis Immergroen ingetrek en op een of ander manier is sy oorgeslaan met die verwelkoming. Ons vra verskoning daarvoor! Dit maak Tannie nie minder welkom nie, dit is om die waarheid te sê, sommer baie lekker om Tannie in die tehuis te hê. Mev Rossouw het vanaf Honeydew in Johannesburg hierheen gekom en sy sê sy mis die plek, maar is gelukkig in Piet Retief. Buitendien kom loer haar dogter, Annalize, darem elke dag by haar in.

Aan die personeelkant is daar ook hierdie week ‘n bietjie nuus: Trudie Engelbrecht wat tans met siekverlof is, word spoedige beterskap toegebid. Jy word gemis by die werk, Trudie. Almal verlang na jou. Die personeel en inwoners wens ook baie graag vir Suster Hanlie du Plessis, en haar man Kallie, hartlik geluk met die geboorte van hulle nuwe kleindogter! Ai, nogmaals dankie vir alle bydraes, groot of klein, kontant of vars produkte. Dit word regtig altyd baie waardeer. “Vergeet om ons te vergeet …” Huis Immergroen liefdegroete